SY is reeds 77 jaar oud, maar bykans 30 jaar al kollekteer sy steeds gereeld geld vir haar kerk en doen dit steeds te voet.
Benewens die een keer per maand wanneer Agatha Schoeman die 25 huise in die drie wyke besoek om vir die NG kerk Newton Park in Port Elizabeth te kollekteer, stap sy ook weekliks om ’n kerknuusbrief af te lewer by diegene wat nie self by die kerk kan uitkom nie.
Sy sê dit neem haar gewoonlik sowat anderhalf uur om die nuusbriefies op haar roete af te lewer, maar as daar eers tussendeur geselsies aangeknoop word, raak dit veel langer.
“Maar ek geniet dit vreeslik baie. Ek is mal oor die stappery en die mense. Ons raak so deel van mekaar se lewens,” sê Schoeman.
Sy het nog die sertifikaat wat sy in 1989 ontvang het van die kerk die dag toe sy as diaken verwelkom is. “Daardie tyd was ons nog diakens. Deesdae is ons kollektante.”
Wanneer sy terugdink aan die jare toe sy begin het om maandeliks geld vir die kerk te kollekteer, reken sy dat daar baie meer lidmate was.
“Die moeilikheid van daardie tyd was dat baie mense bedags by die werk was en dat ek hulle saans moes besoek. Vandag betaal ’n klomp mense die kerk sommer direk en ek kan dié wat nie werk nie bedags besoek.”
Al is Schoeman nie bang om die strate in te vaar en haar werk vir die kerk te doen nie, het sy sowat twee jaar gelede meer katvoet geraak. “Dinge het verander die aand toe ek in my huis aangerand is.”
Minstens twee mans het toegang tot haar huis verkry, haar aangerand en gewurg totdat sy haar bewussyn verloor het. Twee borsspelde is gesteel.




