Nadat haar huis twee keer beroof en haar juwele tydens een voorval summier van haar nek gepluk is, het hierdie vrou van Helenvale in Nelson Mandelabaai besluit: tot hier toe en nie verder nie. Sy weier om ’n slagoffer te wees.
Nadia Abdul, wat liefdevol onder haar gemeenskap as “die koeksistervrou” bekendstaan weens dié stroopsoet lekkernye wat sy elke Sondag by die kilo’s verkoop, is ook nie bang om haar hande vuil te maak en rommel in haar area op te tel nie.
Dié 57-jarige is nie net bereid om self in te spring om haar omgewing skoon te hou nie, maar sy is ook ’n gemeenskapsleier, fasiliteerder vir die Alternative to Violence Projek (AVP) en betrokke by verskeie organi-sasies wat inwoners in haar gemeenskap ophef en programme wat misdaad bekamp.
“Vandat ek daardie dag die besluit geneem het om nie ’n slagoffer te wees nie, is ek nooit weer beroof nie. Ek het besluit om by my gemeenskap betrokke te raak en seker te maak ek bewapen myself met inligting omtrent dit wat in die gemeenskap aangaan deur gereeld gemeenskapsvergade-rings by te woon,” sê Abdul.
Haar deur staan altyd oop vir mense wat om hulp wil aanklop. Daarby is haar hart en deur ook oop vir diere.
Sy vertel van haar liefde vir diere en hoe daar ongeveer tien katte op haar erf bly wat gereeld by haar kos en liefde kry.
“Ek is veral baie lief vir katte. Binne het ek net twee katte, Blacky en Whitey, maar buite is daar meer as tien katte waarvoor ek baie lief is. Ek het iewers ’n aanhaling gelees wat sê dat elke keer wanneer ’n dier by jou kos kom soek en jy gee vir hulle, as hulle wegloop, neem hulle dan ’n stukkie van jou sonde saam met hulle. Daarom is ek so lief vir hulle. As ek die oggend my deur oopmaak, dan bestorm hulle my. Ek werk ook goed saam met die mense van die Dierebeskermingsvereniging,” sê sy met ’n glimlag.
Volgens Abdul is dit die jong kinders van haar gemeenskap wat haar inspireer om vol te hou met gemeenskapswerk.
“Ek sit diegene wat nie meer skool loop nie, te-rug in die skool, ek en die kinders in my straat sal ook sommer nou begin rommel optel en die straat skoonmaak. As ek weet ’n jongmens het nie ’n werk nie, sal ek rondgaan en vir mense vra of daar nie werk is nie. Ek praat ook met hulle en ek raak nie moeg daarvoor om te praat nie,” voeg sy by.
Om dinge vir haar gemeenskap te kan doen en ’n hulp te wees vir andere is iets wat haar goed laat voel, maar die eer kom nie haar toe nie, meen Abdul.
“Vir my is dit my skuld wat ek aan God terug betaal. Ons kry so baie van God af en dié is my manier om Hom terug te betaal. Ek het al vir die Here gesê ek soek nie betaling vir dit wat ek doen nie, ek vra net leiding vir ons kinders.”
Abdul sê haar boodskap aan die gemeenskap is dat mense altyd moet probeer om vrywilli-gerswerk te doen.
“Al doen jy vrywillligerswerk by jou kerk, skool of gemeenskapsaal, dit maak die paaie vir jou oop om mense te ontmoet en hierdie mense vat jou verder. Hulle bied miskien werkswinkels aan en uit sulke vrywilligerswerk kan jy ook ’n werk kry,” sê sy. “Dit help mense om nie heeldag net by die huis te sit en hoop verloor nie. Jou verdienste is so groot sonder geld.”





