Groot skade is eergisteraand (Vrydag) in Cradock aangerig toe ’n deel van ’n raadslid se huis asook ’n rondawel in ’n kultuurdorpie in die omgewing in vlamme opgegaan het.
Tydens die eerste vooorval is ’n petrolbom blykbaar deur die kombuisvenster van Gcobsa Mgeza, raadslid van die Inxuba Yethemba-munisipaliteit, se huis in Maqubenistraat, Lingelihle gegooi. Aansienlike skade is aan die kombuis van die woning aangerig.
In die tweede tweede voorval het een van die veertien toeristerondawels, waar besoekers ’n egte Xhosa- leefstyl kan geniet, in die Vuzubuntu kultuurdorpie net buite Cradock tot op die grond afgebrand. Alles in die rondawel, insluitende slaapkamer- en kombuis toerusting, is in die brand vernietig.
Volgens polisiewoordvoerder, Kapt. Larianne Jonker, word twee sake van brandstigting ondersoek.
“Niemand is in enige van die twee voorvalle beseer nie. Daar is ook nog niemand in verband met enige van die twee gevalle in hegtenis geneem nie,” het Jonker gesê.




