ATKV-PEAAT se jaarlikse komedie is eersdaags op die planke en Baaienaars kan hul gereed maak vir ’n skreeusnaakse en hoogs vermaaklike 2018-produksie.
Vat Hom Flaffie is nie verniet al as ’n boere-klug beskryf nie, want die skrywer, Pieter Fourie, draai nie doekies om wanneer hy heerlik met die mensdom se donker geheimpies en lyflike plesiertjies hekel nie.
Die PEAAT-span blaas egter nuwe lewe in die teks wanneer hul dié trefferproduksie vanaf 25 tot 29 September in The Little Theatre in Belmont Terrace, Port Elizabeth, op-voer.
Hups is ’n man vir wie die jare al aangestap het, maar hy weier om deur die ouderdom aan bande gelê te word. Hy is immers ’n man der manne… Maar sy liewe vrou, Hendrina, kan nie byhou by haar langasemman nie.
Yster ken ook sy storie en is bóbaas onder die sekretaresses terwyl Cindy, ’n sekreta-resse is met slinkse (en opwindende) planne. Tollie, ook ’n vennoot in die maatskappy, is maar al te gretig om by sy seniors te leer.
Jannie, die klerk met die “huppelheupe”, moedig die baas se vrou, Ella, aan om weer haarself te “vind”.
Die afgetrede boer, Hups, met ’n reuseaptyt word deur sy dokter aangepraat om by ’n spa te gaan herstel en ontlaai. Hy smokkel egter eetgoed in en veroorsaak verdere konsternasie wanneer hy honger vroue daarmee probeer lok.
Emercia de Lange, voorsitter van ATKV-PEAAT en bekende op die Baaise verhoë, skuif vanjaar in die regisseurstoel in en meen vanjaar se komedie gaan ’n hoogtepunt op PEAAT se kalender wees.
Kaartjies is teen R90 aanlyn by www.westway.co.za beskikbaar of kan saans by die deure gekoop word. Die vertoning begin saans om 19:30.




