Die aktrises in die satire is, van links (agter), Kerry Allen, Georgia Palmer, Niqui Cloete-Barrass en Mariloe Booysen. Voor is Buli G en Robin Williams.

Foto: Chris Gertsch

Dis Vrouemaand en wat is nou beter om dié besondere maand met ’n teaterproduksie waarin net ’n paar talentvolle vroue optree, te vier.

Curl Up & Dye is deur Sue Pam-Grant geskryf en die befaamde regisseur Robin Williams hanteer die regie daarvan.

Dit is ’n vlymskerp satieriese komedie wat afspeel in ’n haarsalon in Johannesburg gedurende die apartheidsjare in die laat 1980’s.

Stel jou dit voor: ’n Klomp vroue, uit verskillende rasse en agtergronde gedurende die apartheidsjare en dan natuurlik elkeen ook met haar eie opinie, saam in ’n haarsalon.

Die storie draai om Rolene die geesdriftige eienaar van die salon wat alles in haar vermoë doen om die salon se deure oop te hou onder moeilike ekonomiese omstandighede.

Tipies aan daardie tydperk word die rassistiese spanning en sosiale dinamiek weerspieël en soms spat die vonke behoorlik!

Rolene span alles in om haar bykans onhanteerbare kliënte in toom te probeer hou en die onderskeie karakters se skerp humorsin, verskeie komiese misverstande en die absurditeit van hulle situasie lei na ’n genotvolle opvoering.

Curl Up & Dye verweef sosiale kommentaar slim en delf diep in temas soos ras, geslag en magsposisies.

Niqui Cloete-Barrass, vermaaklikheidster en seremoniemeester, Buli G, televisiepersoonlikheid-en uitsaaier, en veteraan aktrises Mariloe Booysen, Kerry Allen, en Georgia Palmer sal verseker sorg dat die komedie tot sy reg kom.

Pam-Grant se skryftalent en skerp waarnemingsvermoë verseker dat die toneelstuk nie net propvol humor sal wees nie, maar dat dit ook ’n politieke oorsig oor Suid-Afrika se samelewing gedurende ’n onstuimige tydperk sal bied.

Curl Up & Dye word van 16 tot 21 Augustus om 19:30 by die Isithata-teater in Walmer aangebied. Die kaartjies kan aanlyn by www.isithatha.co.za gekoop word.

’n Kontantkroeg en veilige parkering sal beskikbaar wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article