DIE Laerskool Setlaarspark het hierdie kwartaal reeds twee groot projekte op die been gebring.
Die eerste hiervan is die vioollesse wat gratis by die skool aangebied word. Die projek is amptelik op 29 April bekendgestel, maar die lesse vir die gr. 1’s en gr. R’e het reeds op 2 April begin.
Luidens skoolhoof Jerry van Huyssteen, is die leerders en ouers baie ingenome hiermee.
Van Huyssteen het vroeër vanjaar gesê dat musiek by Setlaarspark bietjie doodgeloop het.
Buiten ’n staalorkes en die koor het hulle vir ’n tyd lank geen ander musiekklasse aangebied nie.
Hulle is baie opgewonde om te sien wat hierdie projek vir die skool gaan bring.
Slegs ’n paar dae ná die lesse se be-kendstelling het die skool ook met die opgeknapte biblioteek gespog by dié se be-kendstelling.
The Bookery van Kaapstad het duisende boeke aan die skool geskenk. Die Clarendon Park Primêre Skool en die Herbert Hurd Primêre Skool het ook onderskeidelik 2 000 en 1 000 boeke vir die nuwe biblioteek geskenk.
“Ons het die biblioteek verander van ’n suiwer biblioteek na ’n mediasentrum. Ons gaan nou 16 rekenaars daar hê.
“Driekwart van ons kinders het nie internet by die huis nie, so hulle kan nou by die skool kom sit en werk,” het Van Huyssteen gesê.
“Hierdie biblioteek het baie werk behels. Ons het ’n jaar terug met die projek begin.”
Die dak, vloere, mure en bedrading is onder meer opgeknap.
Die bibliotekaris, Saxon Peterson, en verskeie vrywilligers moes ook al die boeke merk en oortrek.
Volgens Peterson sal die biblioteek eers volgende kwartaal vir die klasse oop wees.
“Ons het ’n wye verskeidenheid boeke. Hopelik sal dit die kinders aanmoedig om te begin lees. Die meeste van hulle weet niks van biblioteek toe gaan nie. Ons wil hulle graag aanmoedig om hiervan gebruik te maak.
“Dit het baie lank geneem om te kom waar ons nou is, maar dit was definitief die moeite werd.”





