Kelsey Egan en Buli G. skep publisiteit vir haar film ‘Glasshouse’. Photo: Esmerelde Gerber


KELSEY Egan, ’n Amerikaanse rolprent-regisseur was onlangs in Gqeberha om publisiteit vir Glasshouse, ’n film wat sy reeds in 2021 gemaak het, te skep.

’n Hele paar uitgesoekte gaste in die plaaslike film- en televisie-industrie soos onder andere die akteurs van die sepie, Gqeberha: The Empire The Real asook die realiteitsakteurs van The Real Housewives of Gqeberha het n geleentheid bygewoon waar sy hulle toege-spreek het en haar kortfilm, Gargoyle vertoon is.

Egan woon sedert 2006 in Suid-Afrika waar sy al in Johannesburg sowel as in Kaapstad onder andere as ’n waaghals (“stunt man”) en aktrise in verskeie rolprente opgetree het.

Gargoyle, haar eerste kortfilm was deur die Suid-Afrikaanse Film- en Televisie-toekennings vir die beste kortfilm in 2010 benoem.

Die inkomste wat sy deur Gargoyle verdien het, het ook grootliks Glasshouse help finansier.

Egan glo dat daar meer as genoeg potensiaal in die Oos-Kaap vir die maak van uitstekende films is.

Volgens haar is daar ongelukkig nie genoeg maatskappye wat kan bydra tot die befondsing van plaaslike films nie.

“Dit sal tot voordeel van elke provinsie se ekonomie wees as die Provinsiale regerings wil bydra tot die tipe projekte,” se sy. “Ek weet daar is wel soortgelyke befondsing beskikbaar maar ek dink nie dit word nie behoorlik verdeel en toegestaan nie.”

Egan was die mede-skrywer saam met Emma Lungiswa De Wet aan die Glasshouse se draaiboek. Jessica Alexander, Anja Taljaard en Hilton Pelser het die hoofrolle daarin vertolk.

“Die maak van die film was eintlik ’n geweldige stresvolle tyd vir ons,” verduidelik Egan. “Die film is gedurende die pandemie geskiet net nadat die inperking opgehef was. Gqeberha was egter steeds ’n hotspot en ons was vreesbevange dat een van ons produksiespan siek sou word. Ons het ons eie bubble geskep en om alles te kroon het die Pearson-konservatorium alreeds ’n surrealistiese gevoel gehad, dit was ’n aardige tyd!”

“Dit het egter ook uitstekend by die tema van die film aangepas. ’n Famile, toevallig ook tydens ’n tipe pandemie wat geheue uitwis sonder hulleself in ’n kweekhuis af. Die hegte dinamika verander dan wanneer die oudste dogter ’n gewonde vreemdeling binne nooi.”

Alhoewel sy wel beroof was gedurende haar tyd hier, se sy dat sy enige tyd weer sal terugkeer.

“Dis was eintlik ons eie skuld, behalwe dat ons voltydse sekuriteit moes gereël het was ons nie waaksaam genoeg nie,” verduidelik sy.

“Ek en my kinematograaf (kameraoperateur) het twee uur voordat ons vliegtuig na Kaapstad toe vertrek net op ’n bankie in die park gaan sit om asem te skep toe twee vagebonde ons benader het.

Toe ons wegstap het hulle messe uitgehaal, ons gedreig en ons fone afge-neem. Ek kon in hulle oë sien dat dit nie die moeite werd sou wees om eers te probeer om ons tee te sit nie. Ongelukkig was al my werk op my foon gewees waaroor ek bitter spyt is.”

Sy is egter vol lof vir die stad se mense. “Die hele gemeenskap van die eienaars van die gastehuise waar ons gebly het en almal wat betrokke by die film was het ons so goed behandel. Ons was ook dankbaar vir die AFDA-filmskool behulpsaamheid tydens die verfilming. Die skool het onder andere van hulle beste studente vir ons aangebied om agter die skerms behulpsaam te kon wees.

Glasshouse het ses nominasies tydens die 2022 Suid-Afrikaanse Film- en Televisie-toekennings geleentheid verwerf waaronder vir die Beste Speelfilm, waarvan dit vyf daarvan gewen het. Die fliek het sedertdien ’n paar draaie oorsee gemaak en word nou ook op Showmax gestroom.

Buli G wat ook die gasvrou tydens die geleentheid was, het een van die liedjies in Gargoyle gesing.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article