“See How They Run!” sal binnekort by die Isithatha-teater op die planke verskyn.
“See How They Run!” sal binnekort by die Isithatha-teater op die planke verskyn.

GQEBERHA – Gqeberha se teaterliefhebbers kan hulself gereed maak vir ‘n aand (of middag!) van skaterlag wanneer “See How They Run!” binnekort by die Isithatha-teater op die planke sal verskyn.

Onder die bekwame leiding van die bekende regisseur Robin Williams, bring hierdie klassieke Britse klug uit die pen van Philip King pure komiese wanorde na die Baai.

Die produksie spog met bekende plaaslike talent Leslie Speyers, Annaline Stiglingh, Bennie Gerber, Rachel Lategan, Matthew Hamilton en Arthur Daniels.

Nuwelinge wat hul merk maak sluit in Erin Bartlett, Matthew Osborne en Dieter Vogts.

Hierdie dinamiese kombinasie van talentvolle verhoogakteurs beloof om energie, komiese tydsberekening en hope verhoogpret aan te bied.

Die verhaal speel af tydens die oorlogsjare in Engeland, waar ‘n klein dorpsgemeenskap se vrede heeltemal ontspoor.

Wanneer die predikant, “Vicar” Lionel Toop, se voormalige vrou Penelope – ‘n aktrise met flair – ‘n ou vriendskap met die soldaat Clive Montgomery hervat, begin die moeilikheid. Die vriendskap vind onder ‘n sogenaamde “geestelike dekmantel” plaas om sodoende ‘n skandaal te vermy, maar ontaard gou in totale chaos. En dít is net die begin…

see how they run
In die agterste ry van links, is Arthur Daniels, Matthew Osborne en Bennie Gerber. In die derde ry is Dieter Vogts, Annaline Stiglingh, Leslie Speyers en Rachel Lategan. In die tweede ry is Robin Williams (regisseur) en Erin Bartlett. Voor is Matthew Hamilton. Foto: Charlize Visser

Voeg daarby ‘n ontsnapte krygsgevangene, die neurotiese ds. Arthur Humphrey, die streng Biskop van Lax, ‘n nuuskierige oujongnooi, mejuffrou Skillon, die diensmeisie Ida en ‘n agterdogtige Sersant Towers en jy kry deure wat klap, broeke wat afval en geestelikes wat vinniger vermeerder as wat enigiemand kan byhou!

“See how they Run!” is ‘n prettige komedie waar totale paniek, histerie en hope misverstande aan die orde van die dag is.

Hierdie is Robin Williams & Co. se vierde produksie sedert hul suksesvolle debuut in 2024 met “Curl Up & Dye”, wat elke aand uitverkoop was. Die maatskappy is deur Williams en Bennie Gerber gestig wat die Isithatha-teater hul trotse tuiste gemaak het.

Hul vorige produksies sluit “Jingle All The Way” en “The Rainmaker” in. Elkeen hiervan het hoë verwagtinge oortref – en “See How They Run!” beloof om geen uitsondering te wees nie.

“See How They Run!” word van 12 tot 22 Maart 2026 by die Isithatha-teater in 9de Laan in Walmer aangebied.

Die opvoering, wat net so effens meer as twee ure duur, bestaan uit drie bedrywe met twee pouses tussenin waar ‘n lafenis vir die keel gekoop kan word en die bene so bietjie gerek kan word.

Die aandvertonings begin om 19:30, met naweekmatinees wat om 15:00 sal begin. Die kaartjies hiervoor kos R160 per persoon en kan deur Webtickets of by ‘n Pick n Pay-kiosk gekoop word.

Daar is ‘n beperkte aantal sitplekke beskikbaar, so spring op om jou plek te verseker en so die jaar op ‘n vrolike noot voort te sit. ‘n Kontantkroeg en snoepie asook veilige parkering sal beskikbaar wees.

Besoek @robsandcompany op Facebook om op hoogte van wat agter die skerms gebeur te bly.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article