NET hier onder ons neus in die pragtige ou voorstad Richmond Hill woon RR Ryger, die omstrede Afrikaanse skrywer wie se nuutste boek Drank, Seks en David Bowie nou as ’n e-boek op Amazon beskikbaar is.
Vir diegene wat nie weet nie – Ryger draai nie doekies om nie. Waag dit om ten minste een van sy boeke te lees, want as jy eers aan die lees is sal jy nie sommer ophou nie!
Die hoofkarakter in die boek Ronnie Ryger, is lui en helaas ’n suip-ende digter wat die afgelope paar jaar meer blatjang gekook het as gediggies uitgedink het.
Sy verlede haal hom eindelik in en hy is in groot moeilikheid. Drie psigopatiese wrekers is op sy spoor en Ronnie probeer sy vrou en stiefseun beskerm deur hulle in die donker te hou oor wat aan die kom is.
Sy broer, André, is darem daar om te help asook om die verlede te pro-beer uitpluis. Want die Rygers het uiters vreemde vormingsjare gehad met ’n ma wat botter op haar kinders se koppe gesmeer het en eerder daarvan sit en droom het om met die country-sanger Lance James weg te loop as om kinders groot te maak.
Geen wonder nie dat Ronnie se suster besluit het om ’n baard te groei en in e-posse aan André te wonder of die Rygertjies nie eintlik resusapies is nie.
Hierdie fiktiewe biografie se titel is ook nie verniet Drank, Seks en David Bowie nie. Daar is sommer baie drank, baie seks en baie David Bowie in. Bowie? Ronnie wil ’n kabaretvertoning by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees hou waarin hy van Bowie se minder bekende lied-jies sing. Dis nou, as hy die huidige krisis in sy lewe oorleef!
RR Ryger se prosadebuut, Die Hol Gevoel, is destyds deur sommige kritici, soos wyle Charles Malan, as moontlik die werk van ’n “mal mens” beskryf. Ryger het hom nie deur dié beskrywing van stryk laat bring nie en het met Beertjie en sy Boytjies geantwoord.
Dié ontstellende werk oor ’n droster wat ’n verkragtingspoor laat is deur die resensent Murray la Vita met die “magiese lirieke” van Jim Morisson van The Doors-faam vergelyk.
Verrassend genoeg het Ryger in sy volgende boek, Die Spoed van die Lewe, ’n pelgrimstog na Morrison se graf in Frankryk aangepak. Sedertdien het verskeie ander boeke gevolg, met ’n 101 Bakgat Maniere om te lewe en sterwe, die mees onlangse een.
Maar waarom dan ’n e-boek?
“Ek het die boek al ’n paar jaar terug geskryf en dit vir een van die groot uitgewers in ons land ge- stuur,” verduidelik Ryger.
“Dié uitgewer se keurder was baie positief, maar die uitgewer het om die een of ander rede nie kans gesien om die boek uit te gee nie, seker maar so effens bang hy sou onder die klippe gesteek word deur sensitiewe lesers!”
“Intussen het die pandemie se wrede kloue in die mensdom inge-slaan en ’n uitgewer wat wel vir die boek kans gesien het, kon die boek nie in die voorgestelde tyd uitgee nie.”
“Dis toe wat ek besluit het, basta hiermee, ek sal die takie self aanpak en sommer dit as ’n e-boek uitgee. Met die hulp van die bekende YouTuber, Garry-G is die boek nou eindelik beskikbaar!”
- Garry G is ook ’n filmmaker en musikant. Sy werk kan op sy YouTube kanaal sowel as op verskeie ander sosiale mediabronne gevind word. Vir meer inligting oor die e-boek bel Willemien Green by 082 064 8012 of stuur epos aan mikemien@mweb.co.za met navrae.





