Kort voordat die Makro-winkel in Gqeberha (Port Elizabeth) onlangs sy deure gesluit en na ’n nuwe perseel verskuif het, het ’n vasberade jong man geweet dis nou of nooit: hy móés die geleentheid aangryp om sy meisie te vra om te trou – in presies dieselfde winkelgang waar hulle mekaar ’n paar jaar gelede ontmoet het.
Keanan Hudson, ’n mediese dokter by Livingstone-hospitaal, het sy meisie (nou verloofde) Angelique Hiles na die Makro-winkel gelok op 23 Mei, ’n dag ná haar 25ste verjaardag.
Hy het reg langs die sjokolade wat sy gekoop het toe hy haar die eerste keer in September 2017 gesien het, die groot vraag gevra.
“Makro is die plek waar ek haar ontmoet het, daarom het ek gedink dat dit onvergeetlik sal wees as ek haar ook by Makro vra om met my te trou. Bowendien, nadat ons gehoor het die winkel gaan skuif, het ons gedink dit sal oulik wees om op ’n nostalgietoer te gaan voordat dit permanent sy deure sluit. Dit was die geleentheid vir my om die groot vraag te vra omdat die winkel vir ons albei ’n spesiale betekenis het en dit sou ’n gepaste oomblik wees om haar te vra voor die winkel toemaak,” verduidelik Hudson, wat oorspronklik van Kaapstad afkomstig is.
“Ek was vreeslik senuagtig en opgewonde aangesien daar so baie mense in die winkelgang by die sjokolade was daardie oggend, besig om na my te staar toe ons die dag van ons ontmoeting nagemaak het.
“Ek moes myself meer tyd gee deur die gesprek aan die gang te hou omdat sy geen idee gehad het wat sou gebeur nie. Ek moes die oomblik mooi beplan waarop ek haar sou vra,” voeg die 29-jarige by.
Volgens Hiles, ’n laerskoolonderwyseres, het haar pa altyd gesê dat sy eendag haar man by ’n winkelsentrum sal ontmoet.
“Min het ons geweet dat my toekomstige man van ’n ander stad moes kom net om dit ’n realiteit te maak. Hy het pas hierheen getrek om sy internskap te doen. Die dag van ons ontmoeting onthou ek dat ek nog na die winkel gegaan het saam my tannie om belonings vir my leerders te koop omdat ek die volgende dag ’n klas sou aanbied,” verduidelik Hiles.
“Ek onthou dat ek alleen in die winkelgang by die sjokolade gestaan het en nog besig was om te kies en keur toe ek omdraai en hy daar staan, besig om na my te staar terwyl hy verbyloop. Ons het vir mekaar geknik as soort van ’n groet en hy het net aanhou glimlag terwyl hy weggeloop het. Die hele wêreld het vir ’n paar sekondes stilgestaan. Ek het gekyk hoe hy na ’n ander winkelgang beweeg en hy het omgedraai om my een laaste kyk te gee.
“Nie lank daarna nie het my tannie teruggekom om my te soek en nadat ek my sjokoladekeuse gemaak het, was ek van plan om om te draai toe hy van die ander kant van die gang kom en ons net daar voorkeer,” onthou sy met ’n glimlag.
“Hy het my tannie eerste genader en homself aan haar, en toe aan my, voorgestel. Ek onthou dat sy hele lyf gebewe het en selfs sy mond het gebewe toe hy vra of ek een of ander tyd saam met hom sou uitgaan, terwyl hy so oulike handgebaar maak wat my tot vandag toe steeds laat giggel. Ek kon nie glo dat hy so gou sy kans waargeneem het nie. My tannie het ons een kyk gegee, “awkward” gesê en laggend weggeloop.”
Hiles sê Hudson het vir haar nommer gevra, maar aangesien sy nie haar nommer aan vreemdelinge gee nie, het sy syne geneem en hom vyf dae later ’n boodskap gestuur.
“Hy het binne ’n nanosekonde teruggebel!” lag sy.
“Toe ek hom op sy knieë sien, het my hartklop versnel en ek was oorstelp en tranerig. Ek het nie verwag dat hy my sou vra om te trou nie, hy het niks weggegee nie,” sê sy.
Hudson sê toe hy haar die eerste keer sien, kon hy vir ’n volle 10 minute nie praat nie.
“’n Paar minute later, nadat ek die winkel deurgeloop het, het ek uiteindelik die moed bymekaargeskraap om haar bewend uit te vra omdat ek nie geweet het of ek haar weer sou sien nie. Ek het reeds op die derde afspraak geweet dat sy Die Een is,” sê hy met selfvertroue.
Drie en ’n half jaar later is die twee mekaar se beste vriende.
“Hy het my gehelp om geestelik te groei, hy het integriteit, soek altyd die goeie in alles en skryf tot vandag toe steeds vir my liefdesbriefies,” sê sy met ’n breë glimlag.




