Nelson Mandelabaai se energie-en-elektrisiteitsdirektoraat het gister, 27 September, met ‘n sloerstaking begin wat tot die opskorting van beurtkrag in die metro gelei het.
Die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit het gisteraand ‘n verklaring uitgereik om inwoners van die sloerstaking in kennis te stel.
“Weens onvoorsiene omstandighede wat deur die energie-en-elektrisiteitsdirektoraat ondervind word, sal daar vanaand [gisteraand] geen beurtkrag geïmplementeer word nie,” lui die verklaring.
Die metro se nuwe burgemeester, Retief Odendaal, het gesê dat hy pas ‘n brief aan munisipale personeel gestuur het oor die verbrokkeling van vertroue tussen werkgewers en die munisipaliteit, toe die sloerstaking begin het.
“Hierdie sloerstaking het ongelukkig daartoe gelei dat sommige inwoners sonder elektrisiteit gelaat is weens tegniese foute op die elektrisiteitsnetwerk. Dit is ook die rede hoekom ons nie [gisteraand] beurtkrag gehad het nie,” het Odendaal gesê.
“Dit is jammer dat die verbrokkeling van verhoudings tussen die munisipaliteit en munisipale werkers dienslewering aan ons inwoners negatief beïnvloed het. Ons glo dat ons die saak aangespreek het en alle tegniese foute sal deur die loop van [vandag] na omgesien word. Ongelukkig moet beurtkrag ook volgens die skedule geïmplementeer word.”
Odendaal het vanoggend, 28 September, omstreeks 09:00 bygevoeg dat hy saam met die burgemeesterskomiteelid vir dié direktoraat, Lance Grootboom, besig is om die arbeidsdepartement toe te spreek.





