Wanneer Nicole Blignault haar opwagting maak heers daar groot opgewondenheid en blydskap onder die hondepopulasie.
Haar onvoorwaardelike liefde en toewyding aan hondekinders spruit uit ’n hart so groot soos ’n welsynsorganisasie en ’n brandende passie om ’n verskil te maak in dié diere se lewens.
Vir die afgelope twee jaar doen Nicole die meeste van haar werk in die Noordelike voorstede, in Zwide, Missionvale, Helenvale, Timothy Valley, Jacksonville, Motherwell en Malabar. Terwyl sy meestal 150 tot 200 honde per dag in ’n area voer – die meeste van hulle wees en sonder ’n heenkome – bied dit aan haar ’n gulde geleentheid om honde in ongunstige omstandighede en nood te vind en te help.
Sy gebruik ook elke kans wat mag opduik om die mense bewus te maak van en in te lig oor hoe om na hul diere om te sien. Eienaars word sterk en onophoudelik aangemoedig om hulle honde in skoon spasies te laat bly, van kettings af te haal en om seker te maak dat elke hond ten alle tye ’n warm, gemaklike hondehok, skoon water en ’n bak kos tot hul beskikking het.
“Dit is nou ses jaar wat ek rondloperhonde optel en huis toe bring. Indien hul eienaars hulle nie kom haal nie, bly hul tydelik in my pleegsorg tot hul aangeneem word. Talle honde wat nie huise gekry het nie, het ek al gehou. Ek laat ook honde steriliseer. As babahondjies aan my oorhandig word, versorg ek hulle en verseker dat hul goeie huise kry deur middel van die regte stappe.”
Verwaarloosde en siek honde word dikwels deur Nicole na die veearts geneem. Ongeag die dikwels gevaarlike omstandighede; moeilike dinge wat sy moet aanskou; die hartseer toestande waarin vele diere verkeer; die ernstige siektes wat die honde somtyds onder lede het, soos hondsdolheid, hondesiekte, katgriep en brandsiekte, deins sy nie terug nie.
Somtyds is daar niks meer menslik gesproke wat vir die diere gedoen kan word nie, maar selfs dan is Nicole daar.
“Elke hond wat ek moet hemel toe stuur staan ek by tot hulle hulle laaste asem uitblaas, maar uitsit is altyd my laaste opsie.”
Duidelik is dit nie maklike werk nie, dit behels lang ure en is emosioneel uitputtend. Met die hulp van die AACL (Animal Anti-Cruelty League) en borge word Nicole bygestaan wat dit moontlik maak vir haar om haar werk voort te sit. Geestelik put sy krag uit haar geloof.
“Ek was nog altyd veilig in gevaarlike areas. Ek het nog altyd sterk gestaan met alles wat ek sien en ek weet dit is krag wat ek van God af kry.”
Vir Nicole is haar werk met honde baie meer as liefdadigheidswerk. Dit is ’n lewenstyl en ’n roeping en het haar die person gemaak wie sy is: inspirerend, ongelooflik vasberade en eindeloos empaties in woord en daad.
Alhoewel Nicole grootgeraak het op haar familieplaas waar daar altyd ten minste vyftien of meer honde gewoon het, was dit Angel, haar pitbull-troeteldier, wat haar lewe verander het.
Dit was hierdie hondekind wat haar geleer het om honde te verstaan en ’n deur in Nicole se siel oopgesluit wat nooit weer toegesluit sal word nie.
“Angel het my oë oopgemaak en my geleer wat liefde vir honde eintlik beteken. Ek het Angel in 2013 op my verjaarsdag gekry en ’n dag voor my verjaarsdag, op 22 Junie hierdie jaar, het ek haar verloor aan kanker.”
Maar Angel se nalatenskap leef voort in die onbaatsugtige werk wat Nicole dag na dag voortsit. Soos wat Angel haar beskermengel was vir baie jare, het Nicole op haar beurt die beskermengel van vele en vele viervoetiges geword.
“Mense verstaan pitbulls verkeerd. Hulle is nie wreed nie. Ek sien hul nie as waghonde nie. Eintlik is hulle net soos kinders, hulle soek net aandag en liefde.”
Nicole se droom vir die toekoms is om binne die volgende paar jaar haar eie grond te besit en hondeskuilings te bou, meestal vir pitbulls.
Soos reeds genoem, kan sy dit nie alleen doen nie.
“Ek sal dit so baie waardeer as die gemeenskap kan verstaan dat selfs een bak hondekos ’n verskil maak. Elke bietjie wat geskenk word verseker dat ek kan aangaan met die werk. Selfs die kleinste donasie word waardeer. Dit maak ’n gat toe, dit maak n verskil.
“Dit sal ’n sonde wees om net my werk te stop en weg te bly. Ek weet hoe baie die honde my nodig het. Hulle verwag my. Van ver af al sien hulle my motor aankom.”
- Vir meer inligting gaan na die Facebookblad Nicole Blignault New of skakel haar op 081 344 9427.





