’n SEEDIER wat gestrand is, kan verdrink as mense die dier probeer help deur dit terug in die see te probeer stoot of te trek, waarsku ’n marinebioloog.
’n Jong dwergpotvis het onlangs gevrek nadat hy op die strand in Blouwaterbaai in Port Elizabeth uitgespoel het.
Mense het bykans ’n uur lank gespook om die 2,4 m lange dwergpotvis, ’n soort walvis, terug in die see te kry.
Dr. Greg Hofmeyr, marinebioloog van die Bayworld-oseanarium, is later gevra om te help. Hy het die walvis half bewusteloos en met swak asemhaling aangetref. Die dier het kort daarna sy bewussyn verloor en is na Bayworld gebring. Daar is bevind dat hy nie sal kan herstel nie.
Hofmeyr sê die departement van omgewingsake het toestemming gegee dat die dier van kant gemaak word.
Hy het in ’n outopsie skuim in die lugpyp gevind. Dit is volgens hom ’n simptoom van verdrinking en hy meen die walvis het sy bewussyn verloor omdat hy besig was om te verdrink.
Hy het water ingeneem terwyl die strandgangers hom in die branders rondgestoot het en hy nie normaal kon asemhaal nie.
Hofmeyr vra mense wat op gestrande diere afkom om hulle op die strand te los en hulle so gemaklik as moontlik te maak. Dit kan gedoen word deur die dier se gesig weg van die see te draai, ’n nat handdoek oor sy vel te lê, so min as moontlik geraas te maak en beperkte beweging in sy gesigsveld toe te laat.
Intussen moet die plaaslike owerhede in kennis gestel word om die nodige hulp te kry.
- Hofmeyr sê ’n ondersoek sal dan gedoen word om te bepaal of die betrokke dier gerehabiliteer of met behulp van ’n boot vrygelaat kan word. Enigeen wat op ’n gestrande dier in Port Elizabeth en omstreke afkom, kan Bayworld se noodlyn by 071 724 2122 skakel.





