Man gevonnis nadat hy siek ma (65) met kerfmes doodsteek

Maurice Butlion wat sy ma, Sharon Ann, in September 2022 met ’n kerfmes doodgesteek het, tydens sy verskyning in die hooggeregshof in Gqeberha. Foto: Lulama Zenzile


DIE enigste oplossing vir sy emosionele en finansiële probleme was om sy ma te vermoor en haar lyk te verbrand, kort nadat kanker in 2022 by haar gediagnoseer is, lui Maurice Butlion (35) se pleitverduideliking.

Butlion het Dinsdag in die hooggeregshof in Gqeberha skuld beken op onder meer die moord op sy ma, Sharon Ann Butlion (65), op 13 September 2022. Hy het ingevolge art. 105(a) van die Strafproseswet ’n pleit-vonnis-ooreenkoms met die staat aangegaan.

Butlion het byna uitdrukkingloos in die beskuldigdebank gesit toe adv. Johan van der Spuy, sy regsverteenwoordiger, sy pleitverduideliking voorlees. Hy is die jongste van drie kinders, maar nie een van sy sibbe, soos sy suster Maxine Butlion, het die hofverrigtinge bygewoon nie.

Dié voormalige uitsmyter, wat saam met sy ma in ’n woonstelkompleks in Sentraal, Gqeberha, gewoon het, sê sy lewe het in 2021 begin “ontrafel” toe hy nie meer ’n inkomste verdien het nie.

Die aand van 12 September 2022 het dinge te veel geraak. Hy het teen hierdie tyd reeds aan moontlike oplossings vir hul finansiële probleme gedink, “wat familietwis veroorsaak het” omdat sy broer “ontevrede” geraak het om hulle geldelik te ondersteun.

Butlion het toe besluit die enigste oplossing is om sy ma en dan homself om die lewe te bring, “want ek kon nie meer so lewe nie”. Hy het egter die hele nag met innerlike konflik geworstel.

“Ek het geweet wat ek wil doen, is wetlik en moreel verkeerd, maar ek het geen ander uitweg gesien nie,” sê hy.

Ná ’n rustelose nag en twyfel oor of hy sy “absurde plan” moet deurvoer of nie, het Butlion op 13 September 2022 om 05:00 besluit om dit uit te voer. Nadat hy die moed bymekaargeskraap het, is hy kombuis toe om ’n kerfmes te kry en is terug na sy kamer. Tussen 05:00 en 06:00 is hy verskeie kere na sy ma se kamer waar sy gelê en slaap het, maar kon homself nie so ver kry om haar dood te maak nie. Hy het die plan weer deurdink en is net ná 06:00 terug na haar slaapkamer. Hy het die lig aangesit, maar sy was vas aan die slaap, en het kort daarna wakker geword.

Butlion sê voordat hy sy ma gesteek het, het sy haar oë oopgemaak en haarself opgelig in ’n poging om hom af te weer. Dit het hom egter nie gekeer nie.

Hy het Sharon Ann so gewelddadig gesteek dat die mes gebreek het, maar steeds het hy aanhou steek. Hy het homself in die proses raakgesny.

Nadat hy haar aangeval het, is hy na sy slaapkamer waar hy ’n hemp aan die brand gesteek en dit in sy kas gesit het. Voordat hy die huis verlaat het, het hy ook die tafeldoek op die etenstafel aan die brand gesteek.

Sonder ’n “rugsteunplan” het Butlion die veiligheidshek agter hom gesluit, in ’n motor geklim en gevlug.

Butlion het van Sentraal tot by Walmer gery waar hy Sharon Ann se wit Ford Fiesta-motor gelos het.

Luidens sy pleitverduideliking het hy in die bosse in die Walmer-township geslaap.

Speurkonst. Ridwaan Baatjies het hom op 14 September 2022 by die BP-vulstasie in 10de Laan, Walmer, in hegtenis geneem.

Butlion, wat in Julie ’n maand in die Fort England- psigiatriese hospitaal deurgebring het, sê in sy pleitverduideliking aan sy sibbe dat sy “optrede selfsugtig was”. Hy het sy suster, Maxine, se slagoffer-impakverklaring gelees “en kan haar nie kwalik neem vir haar gevoelens teenoor my nie. As die rolle omgeruil was, sou ek seker dieselfde gevoel het”.

Butlion is soos volg gevonnis:

. Lewenslange tronkstraf weens moord.

. Sewe jaar tronkstraf weens brandstigting.

. 10 jaar tronkstraf weens dwarsboming van die gereg.

. 10 jaar tronkstraf weens die mishandeling van ’n ouer persoon.

Butlion sal effektief lewenslange tronkstraf uitdien.

WAARSKUWING: Die inligting in hierdie berig kan sommige lesers ontstel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article