EEN van die bekendste en gewildste feeste in die Oos-Kaap gaan weereens sorg vir goeie gees en baie opwinding volgende maand wanneer dit in Loerie plaasvind.
Die Loerie Nartjiefees is veral gewild onder families en gesinne wat die dag in die mooi natuurskoon van die Gamtoosvallei wil ontspan.
Om die 27ste verjaardag van die fees te vier, het die organiseerders ’n keur van bekende Afrikaanse kunstenaars gekies om van vroegoggend tot laatmiddag die gehoor te vermaak. Die kunstenaars is Juanita du Plessis, Snotkop, Jak de Priester, Die Campbells, Jennifer Zamudio, Adam Tas, Sonja Herholdt en Dillon Lerm.
Daar sal ook stalletjies wees vir feesgangers om te kuierkoop.
Die Loerie Nartjiefees vind op Saterdag, 29 September, op die kerkterrein van die NG Kerk Loerie plaas. Toegang tot die fees, wat ook die optredes van al die kunstenaars insluit, is R120 per volwassene en R50 per laerskoolkind.
Vir meer inligting kontak die Nartjiefeeskantoor by 042 287 0634 of besoek www.nartjiefees.co.za.




