youngpark sandpit stoei
Musa Davashe en Imange Nkosiyaphantsi kry mekaar in ‘n greep beet terwyl JP Botha toekyk. Foto: Verskaf

GQEBERHA – Die Laerskool Youngpark in die Baai is só ernstig om stoei as ‘n sport te vestig dat hy ‘n massiewe sandpit op sy sportterrein laat aanlê het.

Youngpark is die eerste skool in Suid-Afrika wat stoei amptelik as ‘n sport aanbied.

Die oud-stoeier en onderwyser by die skool, JP Botha, sê omdat dit so moeilik is om toestemming te kry om op die strande van die Baai te stoei, het die skoolhoof, Jeremy Langeveld, toestemming gegee dat die skool sy eie pit maak wat gebruik gaan word vir verskeie sportsoorte op sand.

Botha sê die skool is baie dank verskuldig aan CLD Plant Hire wat die pit van 14 vierkante meter gegrawe het.

Daarna het Prominent Building Supplies 60 ton sand kom aflaai sodat die aksie kan begin.

laerskool youngpark sandpit stoei
Musa Davashe en Imange Nkosiyaphantsi kry mekaar in ‘n greep beet terwyl JP Botha toekyk. Foto: Verskaf

“Ons is werklik opgewonde. Sommer báie,” sê hy. “Om die sandpit in te wy hou ons op 7 Maart die eerste strandstoei-toernooi in die Oos-Kaap.

“Ons gaan dan sommer OP-proewe hou vir die Suid-Afrikaanse strandstoei-kampioenskap wat op 27 en 28 Maart op Jeffreysbaai se strand gehou word.

“Die ander OP-klubs, Uitenhage, Despatch en Algoapark gaan ook hulle beste stoeiers Youngpark toe bring om vir die SA kampioenskappe voor te berei.

“Dít vir ons ‘n groot geleentheid om só baie inskrywings te verwag.

“Stoeiers wat sake vir ‘n plek in die OP-span gaan uitspook sal wissel vanaf jonger as agt jaar tot 60 plus,” sê Botha.

Youngpark wil ‘n groot geleentheid maak van 7 Maart.

Botha sê: “Vure gaan vroeg aangesteek word en ons beloof om ‘n wonderlike dag te hê van pret en goeie strandstoei. Die toernooi begin vanaf 07:00.

“Daar sal ook lekker eetgoed beskikbaar wees van vroeg af dwarsdeur die dag.

“Ons as skool wil ook baie dankie sê vir die borge wat hierdie wonderlike reis vir ons moontlik gemaak het.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article