Morné Meiring en Michael Swart (onderhoofseun van die Laerskool Lorraine) saam met Lillian Koers.


Die Laerskool Lorraine se jaarlikse musiekkonsert was hierdie jaar iets besonders toe die orkes vir juffrou Lilian Koers vereer vir haar jarelange diens.

Die konsert, wat op 3 November plaasgevind het, het Juffrou Koers in die kollig geplaas by haar 38ste konsert by die Laerskool Lorraine.

Sy het die orkes in 1984 oorgeneem by Elize van Rooyen. Nou, reeds 38 jaar later, is die enorme impak opmerklik wat Koers se musiek op die gemeenskap gehad het.

Die bekende sanger Emo Adams het ’n paar jaar gelede saam met kykNET die skool besoek. Adams, wat oral deur Suid-Afrika toer, het opgemerk dat hy nog nie voorheen beleef het wat Koers met die kinders regkry nie. Hy het later teruggekeer na Lorraine vir ’n konsert saam met die bekwame blaasorkes.

Koers se destydse musiekstudente se kinders is nou al in die blaasorkes. Een van die leerlinge wat al jare ’n pad met dié juffrou en die orkes stap, is Michael Swart, die huidige onderhoofseun vir 2022.

Michael het sy eerste musiekkonsert bygewoon nog voor sy eerste verjaarsdag aangesien albei Michael se ouer broers ook voormalige lede van die blaasorkes was. Vandeesmaand het Michael, as trotse orkeslid, sy dertiende konsert onder leiding van Juffrou Koers bygewoon!

Wat hierdie jaar se graad sewes uniek maak, is dat hulle die instrumente waarmee hul by die konsert opgetree het, eers in Januarie 2020 begin leer het. Vir twee jaar het Koers dié groep kinders via WhatsApp touwys gemaak. Hulle het slegs vir twee maande lesse van aangesig tot aangesig gehad en steeds ’n uitmuntende konsert gelewer.

Vir haar jarelange diens het die Klas van 2022 vir Koers die spesiale ‘Trumpeter Swans’-toekenning aan haar oorhandig. Hiermee word sy nie net vereer vir haar uitstaande musikale onderrig nie, maar ook vir die reuse vormende impak wat sy in jongmense se lewens bly maak.

– UITGEREIK DEUR LAERSKOOL LORRAINE

Morné Meiring saam met Juffrou Koers tydens die vieringe op 3 November. Foto’s: VERSKAF

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article