Geagte Redakteur

Graag deel ek my persoonlike ondervinding van mense onbekend aan my, se ongelooflike ondersteuning en hulp aan my gedurende ’n skokkende hartseer tyd in Gqeberha.

Ek is van Bellville, Kaapstad.

My nuwe jaar het tragies begin, toe ek 2 Januarie 2023 ’n oproep ontvang om my in kennis te stel dat my broer dood in sy woonstel gevind is. Hy was maar net 64 jaar oud. Die skok was onbeskryflik. Inderhaas het ek ’n vliegtuigkaartjie en verblyf gereël na en in Gqeberha.

’n Persoon wat ek glad nie geken het nie, Desere Heck, eienaar van Petal Designer Florist en geskenkwinkel, het my op die lughawe kom haal. Sy het haar besigheid vir die oggend gesluit op 3 Januarie 2023 om my te ondersteun en oral geneem om my afgestorwe broer se sake te behartig. Ek was in ’n geweldige toestand van skok. Daarmee saam kon ek nie die opofferings, hulp en ondersteuning van Desere verwerk nie. So iets gebeur net nie meer in die lewe nie. Wat ’n voorreg om haar te ontmoet en vriende te maak.

Min het ek geweet, dié was maar die begin van Gqeberha se mense se goedheid en guns.

Ek het by Lodge on Munro gebly. Die eienaars, Barbara en Bert, het my met ope arms ontmoet. Die eenheid was ruim, gemaklik, skoon en met alles en nog meer as wat ’n mens kan benodig. Wat my egter gedra het deur die moeilike tyd, was hulle opregtheid, ondersteuning en hulpvaardigheid. Hulle het vir my ’n veilige hawe geskep toe ek dit die nodigste gehad het!

My broer se woonstel het intensiewe renovasie benodig. Paul de Lange Handyman Services se kwotasie is aanvaar. Ek moes ná 10 dae terugkeer na Kaapstad. Blindelings moes ek vir Paul vertrou dat hy deeglike werk sal lewer in my afwesigheid. Wat ’n verrassing toe ek foto’s en video’s van hom ontvang het, ná voltooiing van sy werk in die woonstel. Sy werk is van uitstaande gehalte. Wat my opgeval het, was sy professionele en etiese gedragskodes. Dit alleen het ’n vertrouingsverhouding aangemoedig.

Laastens was daar Wayne Hill van Joe’s Garage tweedehandse winkel. My laaste oggend in Gqeberha, het hy iemand gekry om in sy afwesigheid die winkel te beman. Hy het die oggend vir my rondgery na instansies van belang in die afsterwe van my broer.

Al hierdie wonderlike mense van Gqeberha wat ek nog nooit ontmoet of geken het nie, was net daar waar ek dit die nodigste gehad het.

Daar is net een manier om te sê: Baie dankie. Julle het ’n onbekende pad vol kronkels vir my reguit gemaak!

Ann Beneke

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article