Met haar aftrede is dit vir Corrie van Eck en die Laerskool Kabega die einde van ’n era.
Sy het haar eerste tree in die onderwys by die Laerskool Diaz in 1981 gegee. Vyf jaar later is sy weer terug universiteit toe om verder te leer.
“Ná vyf jaar het ek besef dat ek min kennis het van leerlinge met leerprobleme. Dit het my gemotiveer om my diploma in spesialiseringsonderwys by NMMU (vandag NMU) te kry,” het Van Eck vertel.
“Wonderlike jare by Laerskool Cunningham het gevolg. Later het Cunningham en Walmer saamgesmelt en Laerskool Setlaarspark geword. Ek het dikwels my klas na Setlaarspark geneem vir opvoedkundige natuur uitstappies. Ek dink my liefde vir opvoedkundige uitstappies en die natuur het daar begin.”
Haar avontuur by die Laerskool Kabega begin eers in 1996 toe sy deur Dr. Roux, die destydse skoolhoof in die senior LSEN klas, aangestel is.
“Hier het ek weereens besef dat die akademie nie alles is nie. Jy moet simpatie en empatie hê vir jou leerlinge in die klas. As onderwyser het ek geleer dat jy somtyds ma en troosteling en berader moet wees vir die leerlinge.”
Sy is in 2015 as adjunkhoof aangestel, ’n “uitdagende pos wat ek terdeë geniet het.” Dié posisie hou sy met trots tot haar aftrede.
Hoekom die onderwys? “Op hoërskool het ek besef dat ek ’n passie het om met kinders te werk. Toneelspel, kuns en gedigte het my laat besef dat ek deur onderwyser te word, leerlinge se lewens positief kan beïnvloed en ontwikkel.
“As ek terugkyk, weet ek dat ek definitief talle leerlinge by Kabega se liefde vir die kunste ontwikkel het!”
Van hoogtepunte deur die loop van haar onderwysloopbaan kan sy baie vertel.
“As ’n onderwyser wat baie lief is vir lees, was dit definitief ’n hoogtepunt toe die skool die biblioteek vernoem het na my,” het sy vertel.
“Ek is ook trots op die leerlinge wat nasionaal aan die Wetenskap Expo deelgeneem het. Sommige van my redenaars leerlinge het die ATKV finale ronde behaal. Talle van my leerlinge is genooi na die Prestige Kunsfees konserte vir hulle gedigte.
“By Laerskool Kabega het ek leiding geneem by revues. My betrokkenheid by die Groenspoor omgewingsaktiwiteite by Laerskool Kabega was ook ’n hoogtepunt. Ek het ’n aantal jaar toneelstukke geskryf met natuurbewaring as tema.”
Van Eck is ook ’n bekroonde onderwyser, met talle sertifikate en toekennings wat sy ontvang het gedurende haar 42 jaar se diens. Van haar spesiale toekennings sluit in dié vir Maskew Miller Beste Onderwysstudent by die Onderwys Kollege in 1981, Baswa le Meetse – Youth in Water 2004, Cleary Park Omgewingstoekenning, Nasionale Onderwystoekennings (finalis 2005), SAOU Provinsiale toekenning 2005 en die Kadar Asmal Lifetime Achievement Award (provinsiale finale en tweede in provinsie).
Vir die jong en aspirante onderwysers gee sy dié stukkie raad: “Raak betrokke by alle aktiwiteite van die skool. Bemagtig jouself en woon kursusse by. As jy die geleentheid kry, studeer verder. Omring jouself met positiewe kollegas. Probeer om pret te hê in jou klas. Luister na die raad van ouer onderwysers; hulle het die pad al geloop.”
Vir die Laerskool Kabega wens sy dat die skool nog baie hoogtes sal bereik.
“My aftrede lê en loer vir my. Ek wil alle kollegas en skoolhoofde bedank vir almal se raad en ondersteuning deur die jare.”





