DIE Hoërskool Kaap Recife gaan vanjaar hulle 63ste bestaansjaar met ’n lekker fees vier.
Dié skool verskaf buitengewone onderwys aan nagenoeg 450 leerders vanaf gr. R tot gr. 12 met spesifieke leer- of fisiese gestremdhede.
Hulle word optimaal ontwikkel om hulle potensiaal te bereik deur die bystand van onderwys-personeel, terapeute en ’n multi-dissiplinêre span wat sielkundiges insluit.
Die feesvieringe sal op 1 Maart om 18:00 met ’n “Battle of the Bands”-kompetisie begin waar 10 plaaslike orkeste sake sal uitspook.
Die deelnemers is Mediocre van die Hoërskool Pearson, The Hulk & Sons van Harvest Christian School, Die Silwersnare, Undead Generations, Die Baaienaars, Sins of Immigrants, Die Despatchers, Inner Drive, Breëstraat en Die Coastal Clones.
Daar sal ook kosstalletjies wees.
Op 2 Maart sal verrigtinge om 08:00 met die jaarlikse karnaval voortgaan. Daar sal, soos in die verlede, verskeie kosstalletjies wees wat ou gunstelinge aanbied, asook ’n biertuin en teestalletjie. Oud en jonk kan ook die hope vermaak geniet en gesinne kan lekker saamkuier.
Vir die sportliefhebbers sal daar krieket en ’n C-groep-gala wees. Deelnemende skole sluit in, onder meer, Westview, Baseville, Bonzai, Booysens Park, die Laerskool St George’s, VP Grey en die Laerskool Priory.
Kaartjies vir die “Battle of the Bands”-kompetisie teen R50 per volwassene en R25 per skolier is by die skool en sal ook by die hek beskikbaar wees.
Vir meer inligting kontak André of Joey by 041 583 2147.




