GEEN stad, dorp of snelweg in die land gaan in die komende feestyd sonder padblokkades wees nie, sê Bheki Cele, minister van polisie.
“As jy iemand is na wie ons op soek is, sal ons jou op die paaie vind. As jy onwettig in die land is, sal beamptes van binnelandse sake saam met ons vir jou wag,” het Cele verlede Donderdag gesê.
Hy het gepraat by die opening van die polisie se nasionale feesseisoenveldtog in Port Elizabeth.
Honderde polisiebeamptes van oor die land heen het Cele en genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, by die NU2-Stadion in Motherwell verwelkom.
Die “skote” het ook behoorlik geklap in ’n demonstrasie van die gewapende magte waarin hulle gewys het hoe die polisie teen ’n span gewapende transitorowers optree.
Cele het dit ná die tyd benadruk dat dié rowers nie met “besemstokke en stoffers” aanval nie. Hulle is swaar gewapen en sy polisiebeamptes moet gereed wees om hul man te kan staan.
Sitole sê roof met verswarende omstandighede is een van die ses fokuspunte van die polisie se operasionele plan vir die feestyd.
“Ons fokus is op transitorooftogte, bankrooftogte en alle ander rooftogte wat hierby aansluit, asook die misdadigers wat in verband met die rooftogte gesoek word.”
Die toepassing van munisipale regulasies, klopjagte van die verkeerspolisie saam met die polisie, asook geweld teen vroue en kinders is verdere fokuspunte vir die polisie.
Cele het by Sitole aangesluit en polisiebeamptes gewaarsku dat hulle geen vrou, wat beweer sy word aangerand, mag wegwys nie.
“Geweld teen vroue en kinders word net erger. Die polisie moet sonder om té veel vrae te vra, die oortreders in hegtenis neem. Polisiebeamptes is nie onderhandelaars nie. Julle is hier om in hegtenis te neem.
“Vanjaar gaan ons vroue die beste Kersfees gee deur die mans wat hulle seer maak te verwyder.”
Cele het ook ’n beroep op polisiebeamptes gedoen om ’n hoë sigbaarheid by winkelsentrums te handhaaf sodat inkopiegangers in vrede inkopies kan doen en misdadigers geen vatkans kry nie.
Hy het afgesluit deur die “vrot appels” te waarsku dat hulle onwelkom in die polisiediens is en hul dae getel is.
Die feesseisoenklopjagte het Donderdag in die stad met verskeie padversperrings afgeskop en sal voortduur tot vroeg aanstaande jaar.




