Haar glimlag is breër is ooit vandat sy onlangs van skoonmaker tot kassier bevorder is.


Haar glimlag is breër is ooit vandat sy onlangs van skoonmaker tot kassier bevorder is.

Maande lank het sy pligsgetrou haar werk as skoonmaker gedoen, maar elke keer wanneer sy met trots die vloere blinkgeskrop het, het sy verlangend na die kasregisters gekyk en daarvan gedroom om van skoonmaker tot kassier bevorder te word.

Vandag, amper vier maande nadat sy as skoonmaker begin werk het, is die 27-jarige Angel McLean se droom verwesenlik: sy is amptelik aangestel as ’n kassier by Nelson Mandela-baai se Waterfront Superspar in Humewood.

McLean, oorspronklik van Graaff-Reinet, ’n dorpie wat sy beskryf as mooi met heelwat vriendelike inwoners maar ongelukkig min werksgeleenthede vir jongmense, het twee jaar gelede na Nelson Mandelabaai verhuis op soek na werk.

Selfs nadat sy ’n kort kursus in vroeë kinderontwikkeling voltooi het, het sy gesukkel om werk te kry en het hier en daar ’n paar werkies gedoen.

Sy het uiteindelik haar CV by Waterfront Superspar ingehandig en is ingeroep vir ’n onderhoud maar die enigste pos wat beskikbaar was, was dié van ’n skoonmaker.

“Ek het dit aanvaar en ten spyte van alles, die beste daarvan gemaak. Ek het presies geweet wat van my verwag word en wat daarmee gepaard gaan.

“Ek het die beste daarvan gemaak, altyd ’n glimlag op my gesig gehad en ook kliënte gehelp wat hulp nodig gehad het met iets in die winkel. Ek het ook by die slaghuis en ander afdelings gaan uithelp binne die winkel self. Dit het my selfvertroue ’n groot hupstoot gegee, want ek kon myself op ’n ander vlak ook bewys,” het McLean vertel.

“Ek het besef dat as ’n skoonmaker sal daar altyd mense wees wat iets te sê het, al doen jy goed of sleg, sal hulle meer fokus op die slegte dinge en foute wat jy maak, maar steeds het ek aanhou glimlag en uitgehou.

“Ek het myself telkemale bewys op alle vlakke, hard gewerk en die vrugte daarvan gepluk. Harde werk word tog aan die einde van die dag beloon. Ek’t myself gesien as ’n kassier eendag en die Here het my drome verwesenlik. Ek dink my glimlag was maar net ’n bonus,” het sy verduidelik.

Nadat sy slegs drie en ’n half maande ’n skoonmaker was, het sy amper uit haar vel gespring toe sy onlangs deur die bestuurder en eienaar van die winkel ingeroep en van die bevordering ingelig is.

“Hulle het vir my gesê dat hulle baie beïndruk is met my werk en voel dat ek beter sal doen voor in die winkel as kassier.

“Ek’s baie trots op myself en dit het my gewys dat jy nie hoef te stagneer nie. Daar is so baie meer binne ons wat ons nog nie eens ontdek het nie.

“Die Here help diegene wat hulself help. Dit beteken so baie vir my as ’n jong dame want ek het nog baie wat ek so graag wil bereik. Ek wil so graag my leerlinglisensie sowel as my be- stuurslisensie kry en my eie huis en voertuig besit. Van daar af weet ek dat dinge net beter sal gaan.”

McLean, wat haar ma in 2005 aan die dood moes afstaan en nooit haar biologiese pa geken het nie, het gesê dat haar familie baie trots is op haar.

Sy en haar jonger broer is deur haar ma se suster en dié se man ingeneem en saam met hul eie vyf kinders grootgemaak.

“Ek is so dankbaar vir hulle in my lewe. Hulle wens my niks anders as net die beste toe nie. Hulle is my alles.”

McLean het bygevoeg dat sy aan elke persoon wil sê dat niks altyd is soos dit voorkom nie.

“Ons mag dalk vandag op ons laagste wees, maar dit is wanneer God ons geloof toets om ons na hoër hoogtes te neem.

“Ons is tot veel beter in staat. Glo in jouself en moet nooit opgee wat jou drome betref nie. The sky is the limit.”

Angel McLean het amper vier maande lank as skoonmaker gewerk voordat sy tot kassier bevorder is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article