DIE span van Luister!FM 90.6 het vanjaar besluit om ’n groot verskil op nasionale kolwyntjie-dag te maak, wat op 29 September plaasgevind het.

Ter viering van dié dag het die Cupcakes of Hope-organisasie kolwyntjies verkoop ten bate van kinders met kanker.

Aangesien Luister!FM 90.6 op 5 September vanjaar drie jaar oud geword het, het die plaaslike gemeenskapsradiostasie besluit om hul luisteraars uit te daag om hulle te help om 3 000 kolwyntjies in te samel.

Die kolwyntjies moes versier word met swart, wit en oranje kleure en is gebruik om die Luister!FM 90.6 logo in Baywest Mall uit te pak.

Die Luister!FM 90.6-luisteraars het saamgestaan en op 28 September kon Jaco de Villiers, operasionele bestuurder van Luister!FM 90.6, 8 000 kolwyntjies aan Cupcakes 4 Kids with Cancer oorhandig.

Luister!FM 90.6 het hul dank teenoor die getroue luisteraars van die stasie, sowel as besighede wat betrokke geraak het, uitgespreek.

Op 29 September is dié kolwyntjies, asook ’n paar ander, in Baywest verkoop en is ’n bedrag van R42 700 ingesamel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article