Geliefde man van plaaslike insleepdiens só gegroet ná noodlottige ongeluk

Cameron du Piesanie (31).

Foto: Facebook (Cameron du Piesanie)

‘n Geliefde en bekende man in Nelson Mandelabaai se insleepdienskringe is Saterdagaand, 1 April in ‘n motorfietsongeluk in Gqeberha oorlede.

Cameron du Piesani (31) is in die hospitaal dood nadat hy vroeër die aand om sowat 20:00 op die N2 naby Blue Horizon Bay in ‘n ongeluk betrokke was. Hy was die bestuurder van Scorpion Towing-dienste.

Volgens kaptein Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder, is daar geen verdere inligting oor die ongeluk beskikbaar nie, maar die publiek is gevra om die polisie te kontak indien hul enige inligting oor die ongeluk kan verskaf. Kontak die Kabega-polisie by 082 442 1282. ‘n Saak van strafbare manslag word ondersoek.

Intussen het vriende en naasbestaandes van Du Piesanie op sosiale media hul skok en hartseer oor sy afsterwe gedeel.

Jean Mari du Plessis het gesê haar woorde is min. “Jy was die beste Dedda vir Madi. Sy het jou vreeslik baie lief. Ek weet nie hoe om Madi te vertel dat haar Pappa by Liewe Jesus is nie. Dat Dedda ook nou ‘n helder sterretjie is. Jy gaan vreeslik baie gemis word! Rus sag Cammy,” het sy geskryf.

Teresa Page het geskryf: “My pragtige, pragtige seunskind, my eersgeborene. Hoe moet ek aangaan sonder jou stille krag, jou crazy wit, jou spontane danspassies, jou gesing in die kar…jou ‘what’s up mother!‘ oproepe? Ek is gebroke.”

Cameron du Piesanie (31).

Cameron du Piesanie (31).

Volgens Eugene Rathbone, ‘n drywer by Scorpion Towing, was Du Piesanie nie net ‘n bestuurder nie, maar hy was ‘n vriend en ‘n “broer vir ons almal”

“Hy was ‘n rustige persoon en altyd daar vir sy mense. Hy was baie lief daarvoor om met sy bike te ry. Maar ek kan jou een ding sê – hy was baie lief vir sy familie. Cammy  het uit sy pad gegaan vir mense, al was hy hoe gestres en bedruk. Hy gaan gemis word deur baie,” het Rathbone vertel.

Du Piesanie het ‘n seuntjie Damian (10), asook ‘n dogtertjie Madison (5). “Hy los ook sy meisie Nadia (Oelofse) agter. Sy het ook ‘n seuntjie, Jordan (4), wat Cammy grootgemaak het as sy eie,” aldus Rathbone.

As ‘n laaste eerbetoon aan Du Piesanie word daar ‘n spesiale rit (final ride) op Dinsdag, 4 Apil beplan waar verskeie insleep- en ambulansdienste, motorfietsryers, familie en vriende bymekaar sal kom en saam ‘n roete sal ry tot by die ongelukstoneel.

“Ons gaan almal 16:30 vir 17:00 by die Disa-vlakkie in Cotswold bymekaarkom. Ons ry dan almal saam van daar op met Kaapweg, verby Linton Grange en Kabega en dan gaan ons tot by Baywest Boulevard. Daar gaan ons links draai in die rigting van Baywest en dan op die N2 klim en opry tot by The Windfarm. Ons gaan dan weer draai by The Windfarm en terugkom in die rigting van PE tot by die ongelukstoneel,” het Rathbone verduidelik.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article