Garth Sampson bly Baai se weerman, selfs ná aftrede

Garth Sampson, ook bekend om sy Weather Guru-Facebook-blad, het ná 42 jaar by die Suid-Afrikaanse Weerdiens in Gqeberha afgetree. Foto: Cara-Lee Dorfling


DIE Baai se “Weather Guru”, Garth Sampson (60), gaan met sy aftrede eintlik net van kantoor verwissel.

Op sy eerste oggend as pensioenaris is hy reeds besig met beplanning vir sy weervoorlegging wat hy aanstaande maand op ’n konferensie in die Paarl sal lewer.

Sy aftrede het geensins sy passie vir die weer verminder nie – inteendeel, hy sal nou meer daarop fokus.

“Die enigste verskil is ek hoef nie meer elke dag vorms in te vul of administratiewe take te verrig nie, ek kan net op die weer fokus – en natuurlik gaan ek nie soggens in spitsverkeer sit nie.”

Hy het sy loopbaan van 42 jaar by die Suid-Afrikaanse Weerdiens se kantoor in Gqeberha sowat ’n maand voor sy 18de verjaardag begin.

As leerling van die Lawson Brown Hoërskool in die stad het hy daarvan gedroom om ná skool in die kunste te studeer, maar ’n ernstige motorfietsongeluk in sy matriekjaar het sy lewe ’n ander koers laat inslaan.

Weens die omvang van sy beserings is sy diensplig met ses maande uitgestel. Sy ma het besluit hy kan nie net leeglê by die huis nie en het hom aangemoedig om ’n werk by die weerkantoor te aanvaar.

Hoewel hy nie juis ’n belangstelling in die weer gehad het nie en die salaris boonop treurig was, was daar ’n geleentheid om sy diensplig deur die weerkantoor by die lugmag te voltooi.

“En soos hulle sê: Die res is geskiedenis.”

Sampson het ná sy dienspligjare na die weerkantoor teruggekeer waar hy die belangrikheid van weer, ontledings en noukeurige voorspellings besef het. Hy het gou ontwikkel van ’n onervare man wat tee en koffie aangedra het tot een van die Oos-Kaap se bekendste weervoorspellers.

Op straat word hy gereeld voorgekeer deur mense wat vra: “Wanneer gaan dit reën?”

Die vraag het nog meer gereeld voorgekom weens die droogte van sewe jaar in die Nelson Mandelabaai-metro.

Sampson sê ’n mens sou verwag dat daar deesdae minder belangstelling in die weer sou wees, maar die droogte het die onderwerp in die kollig geplaas.

Voordat die droogte sy greep op die metro in 2023 verloor het, was Sampson se naam sinoniem met pogings om ’n “Dag Zero” in die metro af te weer. Hy was gereeld aan die voorpunt van gesprekke waar hy gemeenskappe deur die weerkantoor ingelig het oor die weerpatrone, verwagte langtermynvoorspelling en hoekom dit belangrik is om water te bespaar en op te gaar.

Hiervoor is hy in 2022 tydens The Herald Nelson Mandela University Citizens of the Year-eerbewyse in die kategorie vir waterinnovering vereer.

Op sy Facebook-blad, Weather Guru, deel hy meer informeel, maar altyd in ooreenstemming met weermodelle, inligting rakende weerkwessies.

“Dit is vir my belangrik dat mense die inligting kry wat hulle benodig. Mense wil nie noodwendig ’n lang, tegniese verduideliking van die weer hê nie, hulle wil net weet: Gaan dit reën of nie? Gaan die wind waai? Kortom: Gaan dit ’n slegte of mooiweersnaweek wees?”

Met sy aftrede gaan hy en ander kenners ’n onderneming bedryf waarmee hulle onder meer ondersteuningsdienste aan versekeringsmaatskappye lewer wat weerverwante eise hanteer. Tussendeur sal hy ook tyd maak vir die skryf van sy weeklikse rubriek in ’n plaaslike koerant, openbare voorleggings, sy bonsaiboompies, houtwerk en as daar tyd is hoop hy om weer te begin skilder.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article