Tian Diedericks net ná die voltooiing van die Blue Diamond Classic 99km in Pretoria op 16 September. Dié nuwe hemp, met die kankerstrikkie op, het hy met trots gedra.

Foto: Verskaf

Is jy ’n fietsryer? Al is jy net ’n beginner, of jy weet net
genoeg om nie van die twee-wiel ding af te val nie, dan word jy geroep om te
trap vir kanker.

Van 20 tot 21 Oktober word ’n 24-uur Cycle for Cancer by die
Laerskool Altona in Groenbossies gehou om fondse in te samel vir die
kinderkankereenheid by die Provinsiale Hospitaal in Gqeberha.

Deelnemers – en almal is welkom – gaan op stilstaande fietse
in die skoolsaal trap.

Wie se idee was dié nou?

Die fietstrap vir kanker is die breinkind van Tian Diedericks,
tans ’n graad 10-leerder van die Hoërskool Framesby.

Tian was aan die einde van sy graad 4 jaar by die Laerskool
Altona met kanker gediagnoseer en hy het sy donkerste dae by die Provinsiale
Hospitaal deurgebring.

Vandag is hy vol lof vir die dokters en verpleegsters by die
hospitaal en hy het dit nou sy missie gemaak om ’n goeie verskil in hul
werksomstandighede te maak.

“Hy was 10 toe hy gediagnoseer is met osteo-sarkoma (’n rare
tipe beenkanker) in die kakebeen. Hulle moes helfte van sy kaak vervang met ’n
stuk been wat uit sy been gehaal is,” het Tian se ma, Tania Cowley, gesê.

Sy het vertel dat hulle eers vier maande lank gesukkel het
om ’n diagnose te kry terwyl Tian vir als van pampoentjies tot
tandvleis-infeksie behandel is nadat die groeisel op sy onderkaak verskyn het.

In Desember 2017 het hulle die slegte nuus ontang en sy
eerste ronde chemoterapie het die dag ná Kersfees plaasgevind. Maar dit het nie
gewerk nie.

“Dit het bly groei en toe besluit hulle om te sny. Ná die
10-uur-lange operasie het hy vir nog ses maande vir chemo gegaan en behandeling
gekry. Hierdie jaar is hy vyf jaar skoon. Hy wil nou dit celebrate en
500km op sy eie trap oor die 24 uur. Al die fondse wil hy terugploeg in die
kinderonkologieeenheid by Provinsiaal,” sê Cowley.

Dit was ’n stryd-en-’n-half vir die hele familie.

“Om daar te lê is nie altyd maklik nie, maar die mense wie
jou behandel is besonderse gaaf en omgee mense. My dokters het my laat voel
hulle doen regtig als wat hulle kan. Die hospitaal se omstandighede is dalk nie
die beste nie, maar die mense wat daar werk is amazing,” sê Tian.

Hy het in sy graad 5 jaar uitgevind van watter stoffasie hy
gemaak is. Omtrent die hele jaar was in en uit die hospitaal met so te sê geen
tyd in die klaskamer nie.

“Ons het so tussendeur die chemosessies vir hom sy skoolwerk
gevat. Hy het geleer en sy assessering geskryf en sy graad 5 jaar met lof
geslaag. Hy was onder die top drie leerders in sy jaar,” spog Reon Swanepoel,
adjunkhoof van die Laerskool Altona. “Dit is iets wat vir my persoonlik
uitstaan van hom. Hy is ’n hardwerkende en intelligente kind,” het Swanepoel
gesê.

“Altona was vir ons soos ’n familie. Hulle het ons
ongelooflik ondersteun met sy kankerstryd,” het Cowley bygevoeg.

Op die einde van die dag getuig die gesin van Tian se
ongelooflike herstel.

“Wat gebeur het, moes nie gebeur het nie. Ná die eerste
chemosessie nie gewerk het nie, het die dokters gesê hulle weet nie hoe ek nog
daar is nie. Dis net genade van bo. Dit het regtig ons almal se oë oopgemaak en
my definitief weer laat glo in wonderwerke,” het Tian gesê.

Sy fietstrap-inspirasie

Fietsry was nie altyd sy gunsteling sport nie. Skaars twee
maande voordat hy begin siek word het, het Tian met gemengde vegkuns (mixed
martial arts) begin.

En hy het weer aangegaan sodra hy die nuus gekry het dat sy
been sterk genoeg was.

Dis eers by Framesby dat hy fietsry ’n kans gegee het. Die
skool vereis van elke leerder om ’n winter- en ’n somersport te doen en
gemengde vegkuns was nie op die lysie van sportsoorte nie.

Maar fietsry was wel.

“Ná bietjie minder as ’n jaar besluit ek, ek geniet hierdie,
so kom ek probeer om goed te wees daarin. Toe begin ek kompeteer. Van daar is
dit net op en op, en duurder en duurder,” het Tian gelag.

Hy het deelgeneem aan ’n fietsry-fondsinsameling by Framesby
toe hy vir Johan Oosthuizen ontmoet. Oosthuizen is die stigterslid van die
nie-winsgewende organisasie Fuel on Wheels.

Fuel on Wheels het toe nog ’n fondsinsamelingsprojek
aangepak en getrap van Johannesburg tot in Kariega, en Tian het in Graaff-Reinet
by hulle aangesluit.

“Oor 230km leer jy ’n mens goed ken,” het Tian gesê.

Oosthuizen voeg by, “Tian se storie gee vir baie ander mense
hoop. Hy dryf my. Hy gaan nog uitstaan en die Oos-Kaap baie trots maak. Vandat
hy tien jaar oud is, doen hy net goed vir ander mense. Ek ken nie nog ’n kind
wat leef om ander mense te help nie. Sy mindset lig ander mense.”

Cowley praat net met lof van Oosthuizen, die een wat haar
kind geïnspireer het om te trap vir ’n doel, vir liefdadigheid.

Diedericks daag belangstellendes uit om saam met hom die
24-uur Cycle for Cancer aan te pak vanaf 18:00 op Vrydag 20 Oktober tot 18:00
op Saterdag 21 Oktober.

Deelnemers gaan op stilstaande fietse in die skoolsaal by
die Laerskool Altona trap vir soveel kilometers moontlik. Spanne kan inskryf en
lede kan mekaar aflos om die verste afstand moontlik te bereik.

Tian se doel is om self 500km te trap en het ’n teiken van
R50 000 vir dié fondsinsamelingsprojek.

Kaartjies is R50 per persoon en kan op die dag gekoop word.
Daar sal ook kosstalletjies en drinkgoed wees om die deelnemers en hulle
ondersteuners aan die gang te hou.

Hoe kan jy nog betrokke raak?

Borg die fietsryers per kilometer of maak ’n donasie
elektronies deur die Laerskool Altona by:

Bank: ABSA – Newton Park

Rekeningnommer: 1012511198

Takkode: 632005

Verwysing: Cycle4Cancer


Donasies van rekenaars, spinfietse, energie drankies en
soortgelyke items is ook baie welkom.

Vir meer inligting, kontak Tania by 076 162 3813, Altona by
041 372 1041 of admin@altonaprimary.co.za,
en hou die Laerskool Altona se Facebook-blad dop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article