Sonder enige vorige ondervinding het Ellen Myburgh van Gqeberha (Port Elizabeth) met die kroon as Mej. Tiener Suid-Afrika 2021 weggestap.
Dié matrikulant van die Hoërskool Framesby sê sy is steeds oorweldig van blydskap en ook ten volle gereed vir die verantwoordelikheid wat met die gesogte titel gepaardgaan.
Ellen (17) is verlede week deur dr. Ellen Roux, die nasionale direkteur van die South African Championships of Performing Arts (Sacopa), tydens ’n intieme seremonie in die stad gekroon.
Hoewel Ellen nog nie voorheen aan soortgelyke kompetisies deelgeneem het nie, meen sy die gogga het behoorlik gebyt en sal haar planne om au pair te word ná skool eers opsy staan terwyl sy die moontlike geleenthede van dié kompetisies ondersoek.
Maar vir eers wil sy haar nuwe platform gebruik om ander meisies wat in hulself twyfel te inspireer om voluit te lewe.
“Jong meisies plaas soveel druk op hulself om die beste te wees, terwyl jy net jouself moet wees,” sê Ellen.
Sy erken dat sy tot nog sowat drie jaar gelede baie streng met haarself was en dit dikwels gevoel het asof sy nie goed genoeg vir enigiets is nie.
Haar swak selfbeeld was deels as gevolg van kuberboelies.
Sy sê haar selfvertroue en selfbeeld het gegroei nadat sy by ’n Christelike jeuggroep aangesluit het. “Dit is daar waar ek besef het ek is na die beeld van God gemaak en my lewe daarvolgens begin uitleef het.”
Haar inskrywing vir Mej. Tiener Suid-Afrika, wat op die voorstel van ’n familievriendin was wat haar foto’s op sosiale media gesien het, was juis om haar storie te vertel en ander jong meisies te inspireer.
Sy sê dié kompetisie, wat grootliks virtueel gehou is, is nie bloot op voorkoms gebaseer nie, maar soek kandidate wat ’n verskil wil maak.




