’n BOOMSLANG is van ’n hongerdood gered toe ’n fotograaf ’n paar foto’s van hom neem en toe ’n lang doring naby die slang se bek sien uitsteek.
Pauline Herman, ’n fotograaf van Gqeberha, het die slang met die doring “agter die kop” gesien en sê sy is maar te bly haar hond, Athene, het haar attent gemaak op die heldergroen slang op die stoep.
“Ek het gesien my hond stap ’n entjie agter die slang aan tot waar hy by ’n boom ingaan. Ek het foto’s geneem, want ek sou hom in elk geval gelos het om met sy eie dinge aan te gaan,” sê Herman.
Maar toe sy mooi op die kamera se skerm kyk, het sy die doring gesien en dadelik op hul buurtwag-groep om hulp gevra.
“Ek kon sien die slang is maer, maar het nie besef die doring is meer as ’n sentimeter en ’n half diep in sy bek nie. Dit het dit seker baie moeilik gemaak vir hom om kos in die hande te kry.”
Deno Lombard, ’n plaaslike slangvanger, het dadelik gereageer en het die slang van sowat 1,5 m lank by die huis in Murray Park gevang.
Volgens Lombard was dit te warm om die slang vry te laat en hy het hom gehou tot die volgende oggend toe hy na Nikki Durrant, nog ’n ervare slangvanger, is vir hulp met die doring.
Durrant sê die doring, moontlik dié van ’n kaktus, het net agter die slang se bek ingesteek. Lombard het die slang vasgehou terwyl Durrant die doring van so 30 mm lank met ’n tang verwyder het.
Die roof op die slang se vel was vir Durrant ’n aanduiding dat die doring reeds weke lank daar is. Sy meen die doring sou net dieper by die vel insweer. Dit beteken die slang kon nie vreet nie en sou uiteindelik vrek.
Ná ’n vinnige inspeksie van die slang, wat Durrant tussen drie en vier jaar oud skat, het sy die slang in haar tuin vrygelaat. Sy het al 30 jaar ervaring met slange en meen die “skaam slang” sal homself geniet tussen al die bome in haar tuin.
“Dit is belangrik dat opvoeding rondom slange voortdurend gedoen word sodat mense hul belangrike rol verstaan en hulle nie voor die voet doodmaak nie. Alles gaan oor ’n balans. Wanneer een element versteur of verwyder word, het dit ’n uitwerking op iets anders.”
Sy sê oor die afgelope 15 jaar is daar ongetwyfeld ’n groot verbetering rondom die bewaring van slange. “Vroeër het mense slange doodgemaak en ’n foto gestuur om te vra watter soort slang dit is. Nou word foto’s van lewende slange gestuur met die vraag of hy kan bly. Ek is dankbaar dat mense slange begin respekteer.”
Lombard het op sy beurt mense gemaan om versigtig te bly vir slange omdat veral die boomslang, wat sy bek baie wyd kan oopmaak, baie giftig is. “Maar gelukkig vir ons is hulle nie baie aggressiewe slange nie.”





