DIE Bet-el Christelike Akademie spog nou met Groenhande, ’n nuwe portefeulje wat in Julie onder leiding van onderwyseres Marike Röth tot stand gebring is.

Die portefeulje was skaars ’n maand op die been toe ’n program begin is vir die herwin-ing van sekere soorte plastiek, papier, metaal en glas.

Die skool, wat uit sowat 50 leerders bestaan, bring elke Vrydag hul herwinbare items skool toe, vanwaar dit deur Groenhande in die onderskeie dromme gesorteer word.

Die portefeulje het onlangs hul eerste opruimingsuitstappie by Riverstonestraat in Sherwood gehad.

“Ons het binne ’n uur-en-’n half 13 sakke rommel opgetel en gaan eerskomende Vrydag weer terug om die straat verder skoon te maak,” het Röth gesê.

“Ek was bekommerd oor hoe ons die sakke gaan verwyder, toe ’n barmhartige Samaritaan met die naam André by ons stop en aanbied om die sakke weg te ry.

“Ons skool is dalk klein en ons herwinning en opruiming is niks meer as een druppel in ’n oneindige oseaan nie, maar wat is ’n oseaan meer as ’n versameling van ’n klomp druppels,” het Röth gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article