‘Wonderwerk’ vier 40ste ná hy op sewe al ‘sou sterf’


Aubrey Isaacs saam met sy ouers, Geraldine en Abraham Isaacs. Foto: Candice Bezuidenhout

Toe hy sewe jaar oud was, het hy op ’n stadium so siek geword dat die dokters gesê het sy ouers moet hulle harte van hom afhaal want hy gaan dit nie deur die nag maak nie.

Maar Aubrey Isaacs, wat serebraal gestremd is weens komplikasies tydens sy geboorte en heeltemal van sy ouers afhanklik is, het nie net daardie dag gewys dat hy ’n vegter is nie, maar ook vir 33 jaar daarna aangesien hy onlangs, op 5 Augustus, sy 40ste verjaardag gevier het.

Dit nadat hy ook COVID-19 gehad het en baie siek was, maar ook dít kon hom nie onderkry nie.

Aubrey se ouers, raadslid van wyk 11 in Schauderville, Abraham Isaacs en sy vrou, Geraldine, sê dat Aubrey hul hele wêreld is.

“Hy is ons alles, hy is almal se baba, selfs sy jonger sibbe bederf hom en sê hy’s hul baba,” sê Geraldine terwyl sy haar arm deurentyd om Aubrey se skouers hou en kort-kort met haar vingers oor sy gesig streel.

“Die dokter het gesê omdat sy sewejarige lyfie so klein is, hulle hom nie te lank aan die masjiene gekoppel wou hê nie en dat as hy teen die einde van daardie dag nie op sy eie kon asemhaal nie, hulle die masjiene sou afskakel,” sê Geraldine terwyl trane in haar oë spring.

“Ek was vreeslik histeries. Die nagsuster het gesê ek moet net ’n sterk geloof hê en hy het dit gemaak.”

Sy vertel dat haar seun al baie noue ontkomings met die dood gehad het. Hy was 15 jaar oud toe hy weer so siek word dat hy in die hospitaal opgeneem moes word.

Aubrey het longprobleme en kry ook epileptiese aanvalle. Albei sy heupbene het ook op ’n stadium gebreek.

“Die mediese personeel het voorgestel dat een van ons daar slaap. As sy ma het ek gevoel dat ek dit wil doen. Ek het op ’n stoel langs sy bed gesit en heelnag gebid en by hom gebly,” verduidelik Geraldine.

“Ek het aan die slaap geraak in die nag maar is dadelik wakker toe hy die geluid maak wat ons gewoonlik vertel hy is wakker. Ek het gesê, ‘Boetie’ en daar lig hy sy hande op met drup en al, ’n gebaar wat sê dat hy opgetel wil word. Toe die dokter daar kom, staan Aubrey op sy voete en al wat die dokter kon sê is dat dit net deur die Here se genade is.”

Terwyl Geraldine vir Aubrey op haar skoot tel, hom gemaklik onder ’n kombers toevou en ’n soen op sy voorkop plak, sê Abraham dat Aubrey al vir die afgelope 39 jaar tussen hy en sy vrou op hul bed slaap.

“Hy is ons wonderwerk en ons sou hom op geen ander manier wou hê nie. Hy ken sy ouers. Hy reageer op my stem en steek sy hande op as hy sy ma sien,” sê Abraham.

Ek het aan die slaap geraak in die nag maar is dadelik wakker toe hy die geluid maak wat ons gewoonlik vertel hy is wakker. Ek het gesê, ‘Boetie’ en daar lig hy sy hande op met drup en al, ’n gebaar wat sê dat hy opgetel wil word. Toe die dokter daar kom, staan Aubrey op sy voete en al wat die dokter kon sê is dat dit net deur die Here se genade is.
Geraldine Isaacs

“Dit was vir ons bitter moeilik toe COVID ons tref. My vrou was drie weke lank in die hospitaal en ek en Aubrey was siek by die huis. Ek moes maar so op die bed lê en tel-kens na hom loer om seker te maak hy is oukei.”

Volgens Abraham is dit vir hulle ’n plesier en voorreg om hul seun self te versorg.

“In hierdie 40 jaar het Aubrey nog nooit ’n bedseer gehad nie. Sy intensiewe sorg is vir ons baie belangrik en as ouers is ons baie ingestel op ons kind se behoeftes,” sê hy.

Abraham wys na waar Aubrey snoesig op sy ma se skoot lê en sê:

“Soos hy nou daar op sy sy lê, is dit al instink by my wanneer ek hom vat, dat ek hom op sy ander sy sal lê.”

Geraldine sê aangesien sy en haar man self vir Aubrey ronddra, dit goed sal wees dat hy ’n rolstoel kry maar omdat sy ruggraat skeefgetrek het weens sy toestand, het hy ’n spesiale rolstoel nodig.

“Dit verg baie om hom te versorg, hy moet sy medikasie betyds kry, sy doeke moet omgeruil word, sy kos fyngemaak word omdat hy nie kan kou nie en baie ander dinge maar vir geen oomblik sou ons dit anders wou hê nie,” sê Geraldine.

“Ons sien hom nie as ’n verleentheid nie. Hy is ons kind, nie ’n las nie. Hy is iemand wat net jou hartsnare roer. Ons wonderwerk van God.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article