Die vermiste Silvia Wittal, ’n Duits-onderwyseres van Gqeberha, moet met liefde en sorg benader word indien sy gevind sou word.
So sê Olivia Sims, ’n jarelange vriendin van Wittal (45), wat al verskeie pogings aangewend het om die soekgeselskap na Wittal te vergroot.
Vroeër is berig dat Wittal Donderdag, 30 Desember 2021 laas gesien is toe sy haar huis in die Richmond Hill-woonbuurt verlaat het. Sy was glo onderweg om Oujaarsdag saam met ’n vriend in St. Francisbaai deur te bring, en sou weer Saterdag tuis wees. Sy het sedertdien verdwyn en haar silwer Kia Picanto-motor is verlate in Schoenmakerskop langs die strand gevind.
Die polisie wou teen die daaropvolgende Dinsdag nie veel verdere inligting oor hul ondersoek gee nie.
Kapt. André Beetge, polisiewoordvoerder, het slegs gesê die polisie se soektog by Schoenmakerskop op die strand en aangrensende bosse het geen sukses opgelewer nie.
Hy het egter onlangs bygevoeg dat die soektog voortduur en dat hulle ook die soektog na gebiede buitekant Gqeberha uitgebrei het. Dit het egter geen vrugte afgewerp nie.
“Op die oomblik kan ons slegs sê die soektog gaan voort en dat die ondersoekbeampte verskeie leidrade opvolg.
“Daar is redelike inligting wat deurkom, ook op sosiale media. Daar is mense wat sê dat hulle haar op plekke gesien het, maar sover is sy steeds vermis. Ons verifieer tans al die inligting wat ons ontvang.”
Volgens Beetge is dit belangrik dat mense hulle met Wittal se gesig vereenselwig deur haar foto te bestudeer. Dit sal baie help met die ondersoek.
Hy het ook ’n beroep op die gemeenskap gedoen om hul oë en ore oop te hou.
Sims het bevestig dat ’n soektog voortgaan by Schoenmakerskop, terwyl daar ook na moontlike leidrade in Jeffreysbaai en St. Francisbaai gekyk word.
Sims het weer eens teenoor Netwerk24 benadruk dat Wittal ’n verantwoordelike persoon is.
“Sy is ’n verantwoordelike ma wat omgee, so dit kon moontlik misdaad wees.”
Wittal se kinders is tien en 13 jaar oud wat tydens haar verdwyning in die sorg van hul pa was wat elders in die stad woon.
Teen PE Express se druktyd Maandagmiddag, was daar steeds geen spoor van Wittal nie. Die polisie het die gemeenskap gevra om met enige inligting oor Wittal se verdwyning na vore te kom deur speurkonst. Johannes Meyer, die ondersoekbeampte, op 073 688 9595 te bel.




