Micky die kat. Photo: Lulama Zenzile/Netwerk24


DIE kat wat op 4 April se botsing tussen ’n vragmotor en ’n motor in Gqeberha oorleef het, is op soek na ’n nuwe tuiste.

Die ongeluk, tussen ’n Ford Fiesta en ’n vragmotor, het die lewe van die kat se eienaars en nog ’n kat geëis.

Die man wat die Ford Fiesta bestuur het, is later in ’n hospitaal dood, terwyl sy passasier, ’n vrou, op die toneel in Seaview-weg dood is.

Die een kat wat in die ongeluk dood is, het op die vrou se skoot gesit en die kat wat agterin die motor was, het die ongeluk oorleef en is na ’n veearts geneem. Die bestuurder van die vragmotor is ongedeerd.

Daar word nou ’n huis gesoek vir die kat wat ná die botsing wees gelaat is en by die Walmer Veterinary Hospital behandel word.

’n Familielid van een van die oorledenes het toestemming gegee dat ’n nuwe tuiste vir die kat gevind word, sê Mari­zanne Ferreira, sosialemedia-bestuurder van die dierehospitaal.

Volgens haar is die kat ’n mannetjie en sowat twee jaar oud.

“Soos ons verstaan, is hy ’n baie liefdevolle kat wat van aandag hou.”

Die kat is ook reeds Micky gedoop, wat afgelei is van Michael, die naam van die man wat die kat van die ongelukstoneel na die veearts gehaas het. “Die naam Michael beteken ook geskenk van God, en die feit dat hy oorleef het, is ’n geskenk,” sê Ferreira.

Dr. Mark Pellissier, die veearts wat Micky behandel, het die kat se heup, wat uit potjie was, teruggesit, maar het ná verdere ondersoek besluit om ’n heupoperasie te doen.

Enigeen wat moontlik vir Micky wil aanneem, kan Ferreira by 083 446 6180 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article