Die PEAAT-lede wat die verhoog met Tobie Cronje as gasspeler in die produksie ‘My Boetie se Sussie se Ou’ gaan deel, is voor van links: Vaughn Janse van Rensburg, Mariné Botha, Emercia de Lange, Monique Rudd en agter: Cobus Lombard (links) en Frans van der Merwe. Foto:VERSKAF


’n Groot bonus vir teaterliefhebbers is dat die gewilde akteur Tobie Cronje van 10 tot 15 Oktober as gasspeler in die Baai kom optree in die komedie produksie My Boetie se Sussie se Ou,aangebied deur die ATKV-tak PEAAT.

Die PEAAT-akteurs wat die verhoog met Tobie gaan deel, is bekendes soos, Emercia de Lange, Cobus Lombard, Frans van der Merwe en Mariné Botha. Twee nuwelinge, Monique Rudd en Vaughn Janse van Rensburg, maak hul debuut.

PEAAT is die oudste Afrikaanse amateur-toneelgroep in die land en is in 1951 gestig om ’n verhoog te skep vir amateur toneel in Afrikaans.

My Boetie se Sussie se Ou handel oor ’n taxi-bestuurder in Londen, wat met twee vroue getroud is. Albei dolgelukkig en onbewus van mekaar. Maar wanneer sy twee tieners, ’n seun by die een vrou en ’n dogter by die ander, mekaar op ’n internetkletskamer raak gesels, versnel John Smith se reeds gejaagde lewe tot in die hoogste rat en moet hy spook om hulle uit mekaar te hou.

My Boetie se Sussie se Ou, is vanaf 10 tot 15 Oktober, elke aand om 19:30 met ook ’n middag-vertoning op Saterdag, 15 Oktober om 16:30 op die planke. Kaartjies kos R100 en is beskikbaar by www.quicket.co.za of skakel 082 632 4858. Gaan kyk ook op die PEAAT Facebook-blad vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article