‘n Verkeersbeampte van Mthatha in die Oos-Kaap wat aan diens was, is vanmiddag in die middestad geskiet.
Die skietvoorval het op die hoek van Sutherlandstraat en Yorkweg plaasgevind. Die beampte is op die toneel dood.
Die 62-jarige beampte, Daniel Mxoli, het omstreeks 12:15 die bestuurder van ‘n silwer Toyota Tazz gestop en ‘n stryery het tussen hom en die bestuurder van dié voertuig uitgebreek.
Volgens kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, het die bestuurder van die Tazz toe weggejaag en ‘n ent verder stilgehou.
“Die bestuurder van die voertuig het na die verkeersbeampte gestap en hom twee maal geskiet, voor hy weer in sy kar geklim en gevlug het,” het Naidu gesê.
Intussen het die King Sabata Dalindyebo (KSD) plaaslike munisipaliteit hul skok oor hul werknemer se moord uitgespreek.
“Van wat ons kon aflei het die oorledene die Toyota Tazz se bestuurder genader omdat hy onwettig parkeer het,” het Sonwabo Mampoza, munisipale woordvoerder, gesê.
Met die Mthatha Express se aankoms op die toneel, het polisie en die forensiese eenheid reeds die toneel afgesper, met geskokte omstanders wat rondgestaan het. Ooggetuies wou nie met die Express praat nie, uit vrees vir viktimisering.
Mampoza het gesê dat Mxoli reeds sedert 1999 vir die munisipaliteit werk. Hy het hom as ‘n ywerige en toegewyde wetstoepasser beskryf.
“Die munisipaliteit is geskok deur hierdie voorval. Dit kom op ‘n tyd wat ons reeds besig is met stategieë om die hoë misdaadsyfer en wetteloosheid in die munisipale area te bekamp,” het Mampoza gesê.
Volgens hom het hulle reeds die bank wat oorkant die misdaadtoneel geleë is, genader om beeldmateriaal van hul CCTV-kameras te kry.
Naidu het bevestig dat ‘n saak van moord ondersoek word.





