Die Hoërskool Andrew Rabie vier vanjaar 70 jaar. Foto: VERSKAF


DIE Hoërskool Andrew Rabie vier vanjaar sy 70ste bestaansjaar, en skud tans die vere reg om hierdie mylpaal met ’n paar spesiale geleent-hede te vier.

“Met die deurblaai van albums waarin vele hoogtepunte, prestasies, oorwinnings en besondere geleenthede vervat is, kry mens ’n warm gevoel in jou hart. Ek self en seker baie ander koester hierdie skool wat tog ’n groot rol in ons vormingsjare gespeel het,” het oudleerder René Scholtz laat hoor.

“Elke jaar was daar wenners, verloorders, vreugde en hartseer. Elke dag het ons geleer en geleef met respek, dissipline en trots.”

Die skool nooi oud-leerders en die breë skoolgemeenskap uit om aan die feesvieringe van 70 jaar se geskiedenis deel te neem.

Gala-dinee

Vanjaar word die skool se 70ste verjaardag gedurende die naweek van 11 to 14 Augustus ge- vier. Op die Vrydagaand sal daar om 19:00 ’n gala-dinee in die Dinks van Zyl-skoolsaal plaasvind. Die drag is formeel en die kaartjies is be-skikbaar by die skool tussen 08:00 en 14:00 of by admin@andrewrabie.co.za teen R350 per persoon. Kaartjies kan ook aanlyn by Webtickets gekoop word.

Pieter Rademeyer Jr, sal as gasspreker by die dinee optree. Rademeyer was die hoofseun van die skool in 1999 en is tans die hoof by die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad. Johan Anker, hoofseun in 2010, sal as sanger optree by hierdie geleentheid.

Sportdag en gedenklesing

Die ander naweekaktwiteite behels ’n sportdag op Saterdag, 12 Augustus teen die Hoërskool DF Malherbe. Die Saterdagaand is daar ’n gesellige steak-aand teen R120 per persoon. Kaartjies is ook tussen 08:00 en 14:00 by die skool of by admin@andrewrabie.co.za beskikbaar.

Op Maandag, 14 Augustus vind die Gedenklesing in die Dinks van Zyl-saal plaas. Die gasspreker is Alfred Adriaan, ’n oud-leerder van Andrew Rabie wat in matriek in 2000 was. Alfred Adriaan is die aanbieder van Roer op Kyknet.

Koorfees

Die feesprogram word op Vrydag, 18 Augustus afgesluit met Andrew Rabie se koorfees in die skoolsaal. Die mylpaal reunies van hierdie jaar sluit die volgende klasse in: 1963 – 60 jaar; 1973 – 50 jaar; 1983 – 40 jaar; 1993 – 30 jaar; 2003 – 20 jaar; 2013 – 10 jaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article