’n HOND wat tydens ’n staptog diep in die Van Stadenskloof buite Gqeberha vermis geraak het, is weer met sy eienaar herenig.
Jojo, ’n Jack Russell, is verlede Dinsdagmiddag sowat 2,5 km diep in die kloof aangetref.
“Hy was alleen en het vreeslik geblaf. Dit was asof hy ons aandag wou kry.
“Hy het egter nie toegelaat dat ons hom optel nie,” sê Terence Trevaskis wat saam met sy meisie, Natalie Vogel, in die kloof gestap het.
Uit vrees dat die hond hulle dalk sou byt, het hulle ’n selfoonsein gaan soek en ’n diere-redder se hulp ingeroep.
Die oproep het uitgekom by Lidia Meiring en haar man, Carel, wat by die Animal Anti-Cruelty League in Gqeberha werk.
Volgens Meiring deel sy en haar man ’n groot passie vir diere. “Toe die oproep inkom, het ons nie twee keer gedink om te help nie.”
Carel het Trevaskis in die kloof ontmoet, waarna hulle oor ’n berg moes stap om vir Jojo te vang en terug te dra uit die kloof. Dit het net meer as twee uur geduur.
“Carel het soos Superman daar aangekom. Ek is bly ons kon help, maar dit is Carel wat hom gered het,” sê Trevaskis.
Terug uit die kloof het die soektog na Jojo se eienaar begin.
Meiring het onmiddellik ’n foto van Carel met Jojo op hul Facebook-blad, 4 The Love of 4 Paws, gedeel en verduidelik dat die hond in die kloof gevind is en daar nou na sy eienaar gesoek word.
“Ek het geweet iewers is daar ’n eienaar wat rasend is.”
Jojo se eienaar, wat nie geïdentifiseer wil word nie, het aan Netwerk24 gesê sy het geval tydens haar eie soektog na die hond en besluit om vir eers die kloof te verlaat, aangesien sy nie sein gehad het om vir hulp te bel nie.
“Ek was (Woensdag) op pad na Van Stadens om verder te soek, toe ’n vriend die Facebook-inskrywing vir my stuur oor die mense wat my hond het. Ek is vreeslik dankbaar teenoor die mense wat my hond gered het,” sê sy.
Meiring sê sy en Carel help graag diere, van honde, skilpaaie tot uile.
’n Wenk van Meiring was wel om te verseker dat honde ’n mikroskyfie kry, aangesien dit die opspoor van ’n eienaar sal bespoedig.





