‘Dream of Anne Frank’: Kragtige toneelstuk dra boodskap van hoop

anne frank
Ella Scheepers as Anne Frank. Foto: Verskaf

GQEBERHA – Dreams of Anne Frank is ‘n aangrypende en kragtige toneelstuk wat eersdaags deur die Hoërskool Theodor Herzl in Gqeberha aangebied word.

Met dié toneelstuk word ‘n boodskap van hoop, veral vir jongmense, in ‘n wêreld van onsekerheid oorgedra.

Die boodskap beklemtoon dat dit nie saak maak hoe donker die wêreld lyk nie, die lig, drome en stemme van die jeug kan nooit gedoof word nie.

Die stuk speel af in Amsterdam tydens die onstuimige en vreesaanjaende Tweede Wêreldoorlog en neem die toneelganger op ‘n reis deur die oë van Anne Frank, ‘n jong meisie wat bekend is daarvoor dat sy ‘n dagboek gehou het tydens die angswekkende tydperk toe haar familie van die Nazi’s moes wegkruip.

Die stuk moet egter nie verwar word met The Diary of Anne Frank wat deur Frances Goodrich geskryf is nie.

Met Dreams of Anne Frank word hierdie jong skrywer se drome, hoop en vrese vanuit ‘n meer ekspressionistiese perspektief ondersoek.

anne frank
Ella Scheepers as Anne Frank. Foto: Verskaf

Glorieryke droomlandskappe gepaardgaande met dikwels absurde gebeure gee ‘n aangrypende blik op wat hierdie kosbare jong meisie se lewe moes gewees het.

Niqui Cloete-Barrass, die regisseur van die toneelstuk en wat deur Candice Parkin die musiekregisseur bygestaan word, het hiermee ‘n musikale landskap van die skrywer Bernard Kops se insiggewende boek opgetower.

Liedjies oor drome soos Dream a Little Dream (The Mamas and the Papas), Don’t Dream Its Over (Crowded House), I Have a Dream (ABBA) en meer word ingesluit. Een van die temaliedjies is ook deur ‘n voormalige Theodorian, Raymond West gekomponeer. Dit is juis die kombinasie van dié wel bekende liedjies met ‘n oorspronklike komposisie deur ‘n oud-leerder, wat wys hoe die produksie nie net ‘n hervertelling is nie, maar ‘n kreatiewe herinterpretasie wat die jeug se stemme en drome beklemtoon is.

Chireen Stronach, ‘n welbekende choreograaf hier in die Baai, het die talentvolle toneelspelers met fassinerende bewegingsnommers toegerus.

Die kreatiewe beligtingsontwerp is die breinkind van David Limbert.

Cloete-Barrass is uiters trots op haar jong rolverdeling.

“Hulle het so ‘n volwassenheid, empatie en kreatiwiteit getoon,” sê sy. “Die sensitiewe en eerbiedige manier waarop hulle hierdie komplekse stuk omhels het, is verstommend. Daar het sommer ‘n hegte ‘familieband’ tussen die groep jongmense gevorm.”

Ella Scheepers speel die titelrol in hierdie produksie, terwyl haar ma, Karen, dieselfde rol in The Diary of Anne Frank toe sy nog op skool was, gespeel het. Dit bied gevolglik ‘n besondere generasieverbinding en simboliese diepte aan die stuk.

“Ons gebruik selfs dieselfde dagboek wat my ma gebruik het!” sê Ella met groot opgewondenheid.

Die stuk het ‘n ouderdomsbeperking van PG10, en bevat harde geluide, flikkerende ligte en politieke simbole wat sensitiewe kykers aanstoot kan gee.

Dreams of Anne Frank word op Sondag 22 Maart om 18:00, Maandag 23 tot Donderdag 26 Maart om 19:00 en op Vrydag 27 Maart om 15:00 in die Hoërskool Theodor Herzl se skoolsaal aangebied.

Die kaartjies kos R150 per persoon of R120 vir besprekings van 20 of meer en kan deur Quicket gekoop word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article