MET die vrylating van ’n seldsame robbesoeker aan Suid-Afrika, word gehoop haar satellietopsporingstoestel werp meer lig op dié robbe se swemtog na hul tuiste in die Antarktiese gebied.
Die krapvreterrob Emily was Saterdag vrygelaat nadat sy die afgelope ses weke by die Bayworld-oseanarium in Gqeberha versorg is. Sy is einde Februarie op ’n strand by Schoenmakerskop aangetref.
Slegs 35 krapvreterrobbe is die afgelope 70 jaar aan die Suid-Afrikaanse kus aangeteken, sê dr. Greg Hofmeyr, ’n mariene bioloog by Bayworld, en wys daarop dat dié soort robbe nie dikwels in Suid-Afrika gesien word nie.
Hoewel Emily nie besonder ondergewig was nie, is besluit om haar van die strand te verwyder.
Volgens Hofmeyr het Emily 107 kg geweeg. Gegewe haar lengte van 2 m behoort sy nader aan 115 kg te weeg.
Sy is met Vrydag met die opsporingstoestel toegerus.
Die drie vorige krapvreterrobbe wat in 2021 vrygelaat en met toestelle toegerus is, het nie veel data gebied oor hul reis terug na Antarktika nie, aangesien die sein vir twee van hulle binne die eerste twee weke verlore geraak het. Die derde een, bekend as Pearl, is op ’n strand by die Gamtoosriviermond, net duskant Jeffreysbaai, dood aangetref.
Hofmeyr sê hulle is hoopvol dat Emily se roete langer gevolg kan word.
Sy was Saterdag in die middel van die Agulhas-seestroom, sowat 60 km van Gqeberha se kus, vrygelaat.
“Ons het haar spesifiek in die middel afgelaai en nie aan die kant nie. Die seestroom vloei sterk daar en ons glo dit sal help om haar vinnig suid te dra. Daar is natuurlik geen waarborg dat dit sal gebeur nie.”
Vorige robspesies wat op soortgelyke wyse vrygelaat is, het wel sukses opgelewer. Die olifantrob Selso is deur ’n opsporingstoestel tot by Antarktika, terug na Suid-Afrika en weer tot by die Marion-eiland gevolg waar hy die opsporingstoestel afgeskud het toe hy verhaar het.
“Ons het Selso sowat twee jaar gevolg. Ons beskou sy vrylating as ’n suksesverhaal, veral omdat hy later op die regte plek (Marion-eiland) verhaar het en nie weer aan die Suid-Afrikaanse kus nie.”
Die data van Emily se swemtog sal volgens Hofmeyr bydra tot verdere navorsing om beter te verstaan waarom die jong krapvreterrobbe langs Suid-Afrika se kus uitkom en wat met hul gebeur ná hul vrylating. Dit is nog onseker waarom die robbe in Suid-Afrika aankom. Die laaste vier was almal jonger as ’n jaar oud.
Strandgangers kan Bayworld by 071 724 2122 bel as seediere, lewend of dood, op ’n strand uitspoel.





