Chase het ’n stryd met bosluiskoors gehad. Hy is nou weer sy ou self. Foto: Facebook (Mount Pleasant Vet Clinic)


HULLE word gereeld genoem man’s best friend, maar in hierdie geval is dit meer familie as vriend.

Vir Naomi van Niekerk van Groenbossies was dit ’n groot bekommernis toe haar hondekind, Chase, sowat drie weke gelede ernstig siek geword het. Toe begin die stryd om vir hom hulp te kry.

“Hy het opgehou eet en water drink. Ek het al wat ’n veearts is, gebel die Woensdag. Niemand kon my help, want niemand wou hê ek moet die rekening afbetaal nie,” vertel sy.

“’n Privaat veearts het toe vir my gesê ek moet Mount Pleasant probeer.”

Mount Pleasant Vet Clinic was haar reddingsboei.

Sonder vervoer moes Van Niekerk en Chase die staptog na die veearts begin van hul huis in Groenbossies. Genadiglik het ’n vriend haar halfpad gesien stap, gestop en hulle die res van die pad gevat.

Daar gekom, was Chase behandel vir bosluiskoors.

“Chase het vier inspuitings gekry. Ek was toe al amper by die deur uit toe hulle besluit om hom daar te hou,” vertel Van Niekerk.

“Die Vrydag toe ek bel, sê hulle hy het ’n bloedoortapping gehad. Toe sink my moed, want toe dink ek al hy gaan dit nie maak nie.

“En my kinders wil net by my weet, ‘Mamma, wanneer kom Chase huistoe?’”

Inteendeel, die bloedoortapping was die omkeerpunt.

“Die hond was bitter siek. Hy het oornag agteruitgegaan,” vertel Estelle Myburgh, praktykbestuurder by Mount Pleasant Vet Clinic.

Hulle moes rondskarrel vir die nodige om ’n bloedoortapping te doen en het toe uiteindelik ’n helpende hand by Lovemore Park Dierehospitaal gekry.

Toe die tyd kom vir Chase om huistoe te gaan, was hy amper weer terug na sy ou self.

Van Niekerk sê, “Die Dinsdag toe ek hom gaan haal toe het hy my amper plat gespring. Hy doen baie goed. Hy speel weer en slaap weer op my bed wat hy nie eintlik mag nie, maar . . .” lag sy.

’n Anonieme, goeie samaritaan het hulle huistoe geneem.

“Ons was al so gewoond aan hom. As ek gaan bad, dan lê hy in die badkamer by my. As ek kos maak, dan hy lê hy naby my. En in die tyd wat hy by die hospitaal was, bly ek soek waar my hond is.” vertel van Niekerk.

Hulle het Chase in November as ses-weke-oue kleintjie gekry.

’n Pleidooi, baie oop hande en duisende dankies

So tussen die stres en die kommer deur was daar toe nog die saak van die rekening wat betaal moet word.

Maar Myburgh hou vol, “Ek sal nie kan slaap as ek iemand moet wegwys nie. Niks is vir ons te veel moeite, om ’n dier te gaan help nie. Dit is nou maar net so.”

Van Niekerk het R180 gehad om te betaal en die rekening was meer as R900.

’n Pleidooi het uitgegaan op Mount Pleasant Vet Clinic se Facebook-blad.

“Daar is nog goeie mense in die wêreld. Elke nou en dan verbaas hulle jou.”

Skaars twee dae nadat die boodskap uitgegaan het, het die geld wat mense geskenk vir Chase se rekening al op meer as R8 000 gestaan.

Iemand het selfs ingekom en die R180 wat Van Niekerk betaal het, weer betaal met ’n versoek dat die geld terug aan haar gegee word.

Met dié fondse is Chase se rekening betaal, hy is ingeënt, kos is saam met hom huistoe gestuur en hy word hierdie week gesteriliseer.

Van Niekerk se ander twee honde, Hazel en Lady, is ook ingeënt. En haar twee katte, Garfield en Elmo, is albei gesteriliseer, ontwurmingsbehandeling gegee en ingeënt teen hondsdolheid.

En haar bure se hond, ’n weggooi hond wat hulle ingeneem het en ook Lady genoem het, is ook gesteriliseer, ingeënt en ontwurmingsbehandeling gegee.

’n Groot dankie het uitgegaan van Noami van Niekerk en die hele span by Mount Pleasant Vet Clinic – van praktykbestuurder Estelle Myburgh, assistentbestuurder Jana-Mari de Lange, veearts tegnikus Luke Rasmussen, algemene praktykassistent Andréa van Greunen, ontvangsdame April Swanepoel, student Jason Muller en die twee dokters – praktykeienaar dr. Chris de Beer en dr. Thys Potgieter wat vir Chase behandel het – aan elke persoon wat bygedra het tot die fondse om vir Chase te help.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article