WANNEER haar foon nie Maandagoggend voor haar eerste koffie lui nie, sal dit met gemengde gevoelens wees dat die realiteit insink vir die Oos-Kaapse polisie se hoof van kommunikasie dat haar aftrede aangebreek het.
Vir kol. Priscilla Naidu (59), wat die stem vir die Oos-Kaapse polisie in die media is, sal haar loopbaan oor net meer as vier dekades in die polisie aan die einde van die week tot ’n einde kom.
Hoewel Naidu gereed is vir gehaltetyd saam met haar gesin, erken sy ’n deel van haar sal tog verlang na die werk, ’n verantwoordelikheid wat haar veral oor die afgelope twee jaar as die waarnemende provinsiale kommunikasiehoof besonders besig gehou het. Maar ongeag die gepaardgaande druk het Naidu haar werk met hoflikheid en dringendheid uitgevoer.
Hiervan het lt.genl. Nomthetheleli Mene, polisiekommissaris in die provinsie, getuig wat op Naidu se aftrede-funksie haar lof toegeswaai het as ’n toegewyde beampte, wat die belange van die polisiediens op die hart dra.
Mene het selfs na Naidu as gelykstaande aan haar eie prokureur of regsdienste verwys, wat verseker sy en die polisie se beeld word op die beste en korrekte wyse voorgehou.
“As ’n kommunikasiebeampte het sy ’n fyn oog vir besonderhede en is doelgerig om die polisie se boodskap korrek oor te dra,” het Mene gesê.
Naidu se glimlag verdwyn nie wanneer sy praat oor die gemiddeld 40 oproepe wat sy daagliks van die media oor die provinsie heen ontvang het nie. Op ’n vraag oor hoe sy haar werketiek, te midde die grusame tonele en genadelose werkure, behou, antwoord sy beslissend dat mense en haar werk vir haar ’n passie is.
Maar Naidu, ’n boorling van Durban, se stem was so byna nie met die polisie vereenselwig nie, nadat sy teen haar wil ná matriek in 1983 die voetspore soos baie van haar familie moes volg en onderwys studeer.
Sy het egter ná die eerste ses maande ’n advertensie gesien vir polisierekrute en dadelik aansoek gedoen omdat sy geglo het sy in die polisie ’n loopbaan kan bou.
Vir 21 jaar het sy by die Pinetown-polisiekantoor in KwaZulu-Natal diens gedoen. Op hierdie tydstip het sy die geleentheid gekry om haar loopbaan te bevorder, maar dit sou verg dat sy haar huis en provinsie moet agterlaat.
Die nuwe hoofstuk het haar in 2005 na Kariega (toe Uitenhage), ’n buurdorp van Gqeberha, geneem. Hoewel sy aanvanklik skepties was, veral aangesien die meeste inwoners Afrikaanssprekend is, sê sy die inwoners en kollegas het haar dadelik laat tuis voel.
Sy het in 2013 weer ’n geleentheid gekry vir bevordering, wat haar na die Noord-Kaap geneem het. Sy het die geleentheid aangegryp, maar twee jaar later na die Oos-Kaap teruggekeer nadat haar man, Kevin, ook ’n oudpolisiebeampte, siek geword het.
Naidu het in die tyd ’n geleentheid gehad om na KwaZulu-Natal terug te keer, maar haar hart het reeds ’n voorliefde vir die Oos-Kaap ontwikkel en sy het besluit om na Gqeberha terug te keer.
Sy erken die groot skuiwe oor die land heen agter haar werk aan was uitdagend, maar sy is nie spyt nie.
“Dit was ’n ongelooflike reis. Nie altyd maklik nie, maar die lesse wat ek geleer het, dra ek saam met my, en ek is dankbaar vir elkeen saam met wie ek gewerk het en vir my familie wat dit moontlik gemaak het.”
Haar fokus vir die eerste ses maande van haar aftrede sal rondom haar gesin wees en ook om die eerste keer in jare ontbyt te eet, sonder om deur ’n selfoondeuntjie onderbreek te word.
Hierna mik Naidu steeds om ’n verskil in die gemeenskap te maak deur moontlik haar kennis as ’n motiveringspreker te deel en betrokke te raak by gemeenskapsorganisasies, veral dié wat hulle vir dierewelsyn beywer.
Op dié punt sê Naidu die polisie se honde-eenheid het veral ’n spesiale plek in haar hart.
“Die soek-en-reddingseenhede kry nie die nodige erkenning nie. Hulle is werklik onbesonge helde, wat hul lewe met tye op die spel plaas – nie net vir ’n redding nie, maar ook die herwinning van ’n lyk. Die lede en polisiehonde verdien meer erkenning.”





