DIE groep Franky and The Lulu-Belles gaan met hul nuutste konsert The Franky vs Robbie Show hulle aanhangers laat gil van blote plesier.
Franky, alias Francois Malan, woon al ’n geruime tyd in Gqeberha waar hy wanneer hy ’n kans kry, sy passie vir musiek soveel moontlik uitleef.
Vir die aan wie hulle nog nie bekend is nie, die groep bestaan uit Franky, die hoofsanger wat self op die kitaar tokkel en sy vier dansers Tilette Schreuder-Roelofse, Bianca Swallwell, Lauren Botha en Ashleigh Maling-Nel.
“Die show is ’n musiek-, sang- en dans-extravaganza, met so bietjie grap- en stories-vertellinge tussen-in,” verduidelik Francois.
“Robbie Williams se musiek beïnvloed my al sedert 1998, en dit is ook grotendeels die rede waarom ek jare gelede besluit het om self die kitaar op te neem!”
Die liedjies vir die show strek oor Williams se 26 jaar wat hy as solo-sanger opgetree het en sy betrokkenheid met Take That, die boyband waarvan Williams in die vroeë 90’s deel was.
Die program sluit Feel, Millennium, Rock DJ, She’s The One, Let Me Entertain You en sommer nog baie meer in.
The Franky vs Robbie Show wat alreeds ’n sukses in Knysna en Kenton-on-Sea was word op Vrydag, 12 Julie om 19:00 by The Music Kitchen in Gqeberha en op Vrydag, 19 Julie om 19:00 by die St. Francis-brouery in St. Francis aangebied.
Kaartjies in Gqeberha kos R200 per persoon en in St. Francisbaai vanaf R170 per persoon vir die konsert wat ongeveer twee ure duur en kan aanlyn by Quicket gekoop word.
Daar is wel ’n ouderdomsbeperking vir die kinders 12 jaar en jonger omdat daar so paar stoute grappies tussendeur vertel sal word.
Bel Francois Malan by 072 1434 786 of besoek facebook.com/frankymisfits of stuur epos aan frankyandthemisfits@gmail.com vir meer inligting.





