Wyk 8 Raadslid Gustav Rautenbach by die trappe wat hy laat bou het by die Laerskool Lorraine. Foto: ZELDRÉ STRAUSS SWANEPOEL


DANKSY ’n besorgde wyksraadslid kan die leerders en opvoeders by die Laerskool Lorraine nou veiliger voel.

Die skool het onlangs die wyk 8-raadslid, Gustav Rautenbach, genader om nog ’n trap wat die tweede verdieping na die grondvlak verbind, te laat aanbring. Daar was net een stel trappe wat ’n groot veiligheidsrisiko was, sou ’n brand ontstaan.

Benewens die trappe is daar ook ’n afdak en voetpad aangebring, alles teen ’n totaal van R90 000 – ’n bedrag wat deur die wyk se hulpfonds gedek is.

Rautenbach het by die onthulling gesê dat hy trots is om met die Laerskool Lorraine geassosieer te word.

“Dit is ’n voorreg om ’n vennootskap te handhaaf tussen hierdie skool en my kantoor.”

Skoolhoof JJ Harmse het Rautenbach bedank. “Ons wil baie dankie sê aan die raadslid en ook die munisipaliteit vir die finansiële ondersteuning om daardie trappe te bou. Dankie dat u die behoefte raakgesien het en besef het dat dit nie ’n luukse is nie, maar ’n absolute noodsaaklikheid. Dit was werklikwaar ’n gevaarsone wat ons daar gehad het, so, dankie dat u die kinders se belange op die hart gedra het.”

Die skool het hul waardering gewys deur die trappe na Rautenbach te vernoem en het ’n gedenkplaat met sy naam by die trap aangebring.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article