IN sy swart kerkpak en spierwit hemp het Desmond Solomons van Bethelsdorp Uitbreiding 27 ’n babameisie gevang, en dít boonop op sy vyftigste verjaardag op 1 Julie.
Solomons, wat al 28 jaar lank ’n reddingsmedikus (rescue medic) is, is nie net ’n uitblinker aan diens nie, maar is ook ’n steunpilaar in sy gemeenskap. Alhoewel die geboorte nie sy eerste keer was nie, was dit steeds ’n onvergeetlike oomblik.
“Ek was op pad huis toe van die kerk af in my swart pak en wit hemp toe ek ’n oproep van Belinda Klue, ’n welbekende in ons gemeenskap, ontvang het. Sy het baie benoud geklink en ek het geweet dat iets fout was. Sy het verduidelik dat haar vriendin se dogter besig was om te kraam en ek het toe onmiddellik ingespring om te help.”
Volgens Klue is die nooddienste tydens die bevalling gebel, maar het nooit opgedaag nie, en daarom is Solomons gevra om te help. Hy het dadelik na die gesin se woning gery om die baba te vang.
“Ek was uitgeput van die vorige aand se skof waar ons by die Kirkwood Wildsfees diens gedoen het, maar as iemand in my gemeenskap my hulp nodig het, sal ek altyd uit my pad gaan om te help.”
Nadat die babadogtertjie veilig in die lewe gebring en gestabiliseer is, het Solomons deur middel van sy kontaklys ’n ambulans verkry en binne ’n paar minute was die moeder en haar pasgeborene op pad na die hospitaal vir waarneming.
Solomons, ’n trotse pa van vier kinders en een kleindogter, sê dat ambulanswerk sy passie is en dat babas vang een van die hoogtepunte is.
“Ek kan nie presies onthou hoeveel babas ek al gevang het nie, maar dit is al oor ’n duisend. Ek kan nog baie goed my eerste vang onthou – dit was ook ’n babadogter. Ek was baie bang en het nog nooit so iets ervaar nie. My lewe het heeltemal verander sedert daardie dag.”
Hy vertel met trots dat hy daardie tyd ’n kombi gehad het met die naam Candy en dat die moeder van die baba besluit het om haar Candy te noem uit dankbaarheid vir sy hulp.





