Quintin Baatjies en Apostel Marius Kock wat spog met sy nuwe I.D.-kaart.


’n INWONER van Bethelsdorp se lewe het tot stilstand gekom toe hy vir jare nie ’n nuwe identiteitsdokument kon kry nie.

Volgens Apostel Marius Kock het hy vir byna agt jaar gesukkel om sy I.D. te vervang. Hy sê nadat hy aansoek gedoen het vir ’n nuwe I.D. in 2010, is hy ingelig dat daar iemand anders met dieselfde besonderhede is.

“Ek het in 1994 my eerste I.D. gekry en in 2010 weer aansoek gedoen vir ’n nuwe een, juis omdat my ou I.D. besig was om uitmekaar te val.”

Volgens Kock het hy die Departement van Binnelandse Sake weereens in 2011 gekontak om op te volg, maar die probleem was steeds nie opgelos nie.

“Ek het gesertifiseerde kopieë van my ou I.D., my skoolsertifikaat, my twee diplomas en albei my ouers se identiteitsdokumente, asook hul huweliksertifikaat by Binnelandse Sake ingedien as bewys van my identiteit. Dit het ook nie die saak veel gehelp nie. Ek was verpletterd, want die bank wou my ook nie sonder ’n I.D. help nie.”

Volgens Kock het Binnelandse Sake hom ingelig dat sy I.D. gedupliseer is en hulle wel die saak ondersoek het. Kock het sy regterhand in ’n motorongeluk in 1993 beseer en hy meen dat die probleem dalk daar ontstaan het wat sy vingerafdrukke betref.

Hy het in Junie vanjaar vir Quintin Baatjies van die munisipale kantoor in Wyk 37 genader en met hom gesels oor sy probleem.

Baatjies, wat daagliks soortgelyke sake hanteer, het dadelik ingespring om Kock met sy penarie te help.

“Omdat ek ook ’n gelowige is, het ek nie gehuiwer om hom te help nie. Wanneer ek my hand aan iets sit, moet iets gebeur,” het Baatjies gesê.

Hy het Kock verwys na ’n gemeenskapswerker wat die proses vir heraansoek aan die gang gesit het.

Kock het sy splinternuwe I.D.-kaart twee weke later ontvang.

“Ons het glad nie verwag dat die proses só vinnig sal verloop nie, maar ek is dankbaar daarvoor,” het Kock gesê.

Hy het dadelik na die munisipale kantore in Wyk 37 gery om die goeie nuus met Baatjies te deel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article