Die Laerskool Sunridge se musiekonderwyseres Elaine Browne het onlangs ná meer as 30 jaar afgetree.Foto:VERSKAF


“DIS wonderlik om ná 36 jaar terug te kyk en te weet dat jy die saadjie by menigte van hulle geplant het wat nou hulle graad of meestersgraad in klavier of trompet doen.”

Dit is die woorde van Elaine Browne wat ná meer as 30 jaar haar medewerkers en leerders by die Laerskool Sunridge gegroet het.

“Dit was vir my besonder aangenaam om met Sunridge se mees talentvolste leerders in musiek te werk; leerders wat uitgeblink het in klavier en koperblaas in kompetisies in Oos-Londen, Grahamstad, Kaapstad en Port Elizabeth.”

Dit was vir Juffrou Browne ook ’n voorreg om te sien hoe van dié leerders ook hulle eie blaasorkeste begin of musiekonderwysers word.

“Wat ek die meeste gaan mis is die bevrediging wanneer ’n leerder ’n musiekwerk met emosie voordra en presies speel soos wat ek dit wil hê en so aan die komponis se verwagting voldoen. Dan is daar beslis ’n traantjie wat uitgepik moet word oor die volmaaktheid daarvan,” het Browne gesê.

“Die ander is as leerders jou in die gang raakloop en sê, ‘ons is so opgewonde want ons het vandag by juffrou musiek’.”

Sy het vertel dat sy haar genotvolste en opwindendste tye deurgebring het agter die klavier tydens opvoerings van operettes in die Operahuis soos Aladdin, Hansel and Gretel en Pinocchio.

“My wens vir Sunridge is dat die groot talent van musiek, dans, drama en kuns nie verlore sal gaan nie, want dis die vakke wat kinders eintlik die meeste geniet.

“Vir my kollegas wil ek net sê – wees geduldig, hou moed, hou vol en ek sien uit na die volgende operette by Sunridge.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article