DIE Hoërskool Andrew Rabie ATKV Rabie-ratels-jeugtak het vanjaar ’n baie besige Afrikaansweek aangebied.
Deur die loop van die week het leerders tydens pouses sokkies gehou en op Afrikaanse musiek gedans en die matrieks is bederf met ’n bottel water waarop ’n idioom oor water voorgekom het.
Divan Barnard, een van die onderwysers, het tydens ’n saalbyeenkoms, wat deur die ATKV-lede gehou is, die leerders vertel van die geskiedenis van die Boere-konsertina en Engelse konsertina.
Afri-koekedoortjie is gehou en die leerders moes die aarde uitbeeld met ’n kolwyntjie. Hulle het ook bromsang en rymklets geniet
Die Engelse leerders het ook ywerig aan die idioom- en spelkompetisie deelgeneem.
Die week is op ’n hoë noot afgesluit met ’n optrede van die musiekgroep Adam in die saal.




