HUIS Marian Villa, ’n veilige hawe wat swanger tienermeisies huisves, maak binnekort hul deure toe.
Huis Marian Villa dien sedert Junie 1999 die gemeenskap van Port Elizabeth toe dit deur die Katolieke kerk, The Knights of Da Gama, gestig is.
“Dit was baie bedrywig toe ons deure geopen het. Ons het omtrent vier tot vyf meisies per slag ontvang en gehuisves, maar soos jare verbygegaan het, het die aantal meisies gedaal,” het huismoeder, Yvonne Williams gesê.
“Ek het tans net een swanger meisie vir 2018 ontvang. Dit is waarom besluit is om die huis toe te maak, juis omdat té min meisies hier opdaag,” het Williams verduidelik.
Ongeveer R20 000 word maandeliks betaal om die plek instand te hou.
“Die meisies wat hier opdaag, word teen geen koste gehuisves. Die geld wat maandeliks aan ons gegee word, is vir basiese benodighede en ook om na die meisies om te sien,” het Williams gesê.
Tans lewer die sentrum steeds ’n omvattende diens en hul fokus bly gerig op sorg, berading en om ’n ontwikkelingsprogram te vestig vir meisies wat ’n krisis-swangerskap ervaar.
Dit is gewoonlik meisies wat vanaf ses tot agt maande swanger is, wat aan Yvonne se deur kom klop.
Die deure van Huis Marian Villa is oop vir hawelose swanger meisies en ’n maatskaplike werker word aangestel om te bepaal of daar wel ’n krisis is.
“Ons neem net meisies in wat deur ’n maatskaplike werker verwys word, juis om te kyk of daar werklik ’n probleem by die huis is. Indien dit nie so gedoen word nie, gaan enige persoon aan ons deure klop. Ons is ’n krisis-swangerskapsentrum,” het Williams bygevoeg.
Met PE Express se besoek by Huis Marian Villa het ’n 17-jarige swanger meisie, wie se identiteit beskerm word, oor haar omstandighede en ervaring by Huis Marian Villa gesels.
“Ek het grootgeword by my ouma en oupa; en toe ek swanger word, was hulle baie teleurgesteld. My oupa het my gesê dat ek moet kies – óf hulle óf my baba. Ek het nie geweet wat om te doen en waarheen om te gaan nie,” het sy vertel.
Die maatskaplike werker wat aangestel is om swanger meisies te help, het haar na Huis Marian Villa verwys.
“My ouma het my ook baie gehelp, maar kon nie veel doen nie weens my oupa wat my uitgesit het,” het sy gesê.
Die meisie, wat ses maande swanger is, is in die proses om haar skoolloopbaan te voltooi en Huis Marian Villa help haar om positiewe besluite te maak.
“Ek is nog nie 100% seker wat gaan gebeur sodra die baba kom nie, maar die huismoeder en maatskaplike werker help baie. Ek sal probeer om die regte ding te doen,” het sy gesê.
Williams hoop egter dat Huis Marian Villa se deure wel oopgehou sal kan word.
“Alhoewel ons deure gesluit gaan word, wil ons graag die gemeenskap vra om ’n hand by te sit en dalk te help. Hierdie huis het so deel geword van die gemeenskap en dis hartseer dat die bestaan daarvan oor ’n paar maande vergete sal word,” het Williams gesê.
Hul visie bly egter dieselfde: “Ons help mekaar uit liefde en probeer heel maak.”




