’n STORTINGSTERREIN wat eers ’n oogseer in die Palm Ridge omgewing was, is in ’n splinternuwe speelpark deur sy inwoners omskep.
Die projek wat begin is met die hulp van vyf huishoudings in dié gebied, het gou die belangstelling van die gemeenskap ontlok en almal het hand bygesit om die terrein skoon te maak en die afval te verwyder.
Erwin Muller, ’n inwoner van Palm Ridge, het die bal aan die rol gesit en na mense uitgereik om met sy inisiatief voort te gaan. Hy meen dat die munisipaliteit sloer om hul kant te bring en inwoners moet self die plek meer leefbaar maak.
“Hierdie plek was eers ’n stortingsterrein en ons kan nie dit toelaat nie. Dit is ongesond vir ons en die kinders, asook die omgewing. Ons kan nie langer wag vir dinge om in ons gemeenskap te gebeur nie,” het Muller gesê.
Muller se buurman, Gordon Norris, is ook baie betrokke by die projek en het selfs iemand aangestel om die gras en onkruid te verwyder.
“Toe my buurman met hierdie projek begin het, het ek dadelik ingespring om te help. Ons reik graag uit na mense in die gemeenskap om ons te help. Daar moet nog so baie gedoen word om die speelpark te voltooi,” het Norris gesê.
Die stortingsterrein is reeds etlike jare ’n kopseer vir die gemeenskap.
Raadslid Georgina Faldtman sê sy hou gereeld openbare vergaderings met die inwoners oor hul probleem-gebiede.
“Die storting van vullis in die gebied is ’n groot probleem. Ek wil hulle graag help om die plek in iets mooi te omskep, maar ons benodig fondse om dit te doen. Hierdie soort projekte vorm nie deel van die begroting nie. Hulle benodig die nodige toerusting, bome, banke en ’n heining. Ons reik graag uit na die gemeenskap om ’n handjie by te sit,” het Faldtman gesê.
Soos wat die speelplek besig was om vorm aan te neem, het baie inwoners hier gestop om die vordering met glimlagte te bewonder.
“Die mense stort glad nie meer hul vullis hier nie. Ons het ook almal gewaarsku en mooi gevra om die plek skoon en netjies te hou,” het Muller gesê.
Volgens die vrywilligers, is dit nie net vir kinders ’n speelplek is nie, maar dit bring die gemeenskap bymekaar. Inwoners van verskillende ouderdomsgroepe en agtergronde werk langs mekaar om die speelgrond ’n realiteit te maak.
“Om verantwoordelikheid te neem vir die gemeenskap waarin ons woon is belangrik. Ná jare se beplanning en besprekings wil ons graag iets goeds doen uit iets wat nie so goed was nie,” het Norris bygevoeg.
Volgens Faldtman sal meer speelgronde gevestig word uit stortingsterreine in dié gebied.
“Ek luister graag na al die mense se klagtes en omdat storting heelbo aan hul lys is, moet ons iets daaromtrent doen,” het sy gesê.




