’N OOP, groen ruimte in Verdunstraat in Lorraine wat binnekort in ’n speelpark omskep gaan word, spog nou met 13 bome wat onlangs daar geplant is.

Die parke-afdeling van die Nelson Mandela-munisipaliteit het die wildepruimbome geskenk om deel te vorm van raadslid Gustav Rautenbach se “Go Green”-projek.

Afleweringswaens en ander swaarvoertuie het in die verlede op die oop ruimte parkeer wat ’n oogseer vir inwoners van Lorraine was.

Die heining en bome sal voertuie buite die toekomstige speelpark hou.

“Ons het ’n heining rondom die oop veld opgesit om te verhoed dat voertuie nie daar parkeer nie.

“Die heining, wat altesaam R30 000 gekos het, is geskenk deur Kayalihle Trading and Construc-tion se eienaar, Terrence Nyathi,” het Rautenbach gesê.

Die “Go Green”-projek wat in 2009 bekend gestel was, het toegesien dat meer as 1 300 inheemse bome regoor die metro geplant is.

“Bome bring lewe en daar kan so baie gedoen word op hierdie veld. Ons gaan gryswater gebruik om hierdie bome water te gee.

“Ons is besig om dit in ’n speelpark te omskep en gaan binnekort banke ook kry. Die inwoners van Lorraine kan baie baat vind hierby en ook hul kinders bring om die geriewe te geniet,” het Rautenbach bygevoeg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article