SIMONE Ebersohn, ’n 23-jarige student van Port Elizabeth, is in Oktober as die tweede prinses van Mej. Dowe Suid-Afrika (MDSA) gekies.
Sy sê sy het deur die loop van die kompetisie baie oor haarself geleer. “Ek was maar ’n stil en skaam mens wat nooit baie daarvan gehou het om in die kollig te wees nie. Ek het nie geglo dat ek die nodige selfvertroue gehad het om so iets aan te pak nie. Ek kan egter nou sê dat dit die beste besluit was en danksy die hele proses, het ek so baie gegroei dat ek voel ek kans sien vir enigiets,” het sy gesê.
Ebersohn is op haar tweede verjaarsdag as doof gediag-noseer nadat ’n virus haar gehoorsenuwees beskadig het.
Sy is ook kort daarna met ouditiewe prosesseringsprobleme en aandagafleibaarheid gediagnoseer.
“Ek het regtig nooit gevoel asof ek iewers pas nie. Ek was nog altyd ’n baie sensitiewe mens wat baie sensitief oor my gestremdheid was. As ek terugdink aan my hoërskooldae, was daar tye dat ek my dae om gehuil het,” het sy vroeë vanjaar tydens ’n onderhoud met Cara-Lee Dorfling van Die Burger Oos-Kaap vertel.
Sy is tans besig met haar diploma in Bestuurs-assistent N5 en hoop om dit aan die einde van 2019 te voltooi.
“Ek oorweeg dit sterk om ook vanjaar ’n kursus te volg om myself meer vertroud te maak met Suid-Afrikaanse Gebaretaal. Alhoewel ek bevoorreg is om verbaal te kan kommunikeer, wil ek graag gebaretaal aanleer omdat ek glo dat dit my nog meer in staat sal stel om in te skakel by dowe gemeenskappe en om daardeur’n groter bewusmaking van doofheid, land- en wêreldwyd, te skep.”
Ebersohn het vertel dat verskeie mense haar aangemoedig het om vir MDSA in te skryf. Onder hulle is ’n mede-wenner van die kategorie “Mr Deaf South Africa, Charity 2018 & 2019”, Darren Archer, asook oud-Mev. Dowe Suid-Afrika 2016 Florein Marais en Ebersohn se ma, Christelle.
“Die kompetisie was ’n baie groot uitdaging. Ek het die kompetisie-week voor die kroningsgeleentheid vreeslik baie geniet Die MDSA bestuur het werklik uit hul pad gegaan om die week vir ons onvergeetlik te maak en dit sal my altyd bybly met die mooiste herinneringe en hegte vriendskappe wat ek gemaak het,” het Ebersohn gesê.
Sy het verder vertel dat sy baie verbaas was toe haar naam uitgeroep is as tweede prinses. “Ek het gevoel dat elke finalis daar ’n wenner was en om die formele erkenning daarvoor te ontvang, was beslis vir my ’n groot, persoonlike prestasie.”
Haar ma bars omtrent uit die nate van trots.
“Ek kan nie genoeg benadruk hoe trots ek op Simoné is nie. Ek het nog altyd geglo dat sy groot potensiaal het, nie omdat ek haar ma is nie, maar omdat ek deur haar hele lewe opgemerk het hoe sy mense kon aanraak met haar teenwoordigheid – en sy het dit nooit eers besef nie.”
Ebersohn se grootste droom vir die toekoms is om die wêreld deur te reis, te leer van die dowe kultuur en “seker te maak dat jonk en oud in die dowe gemeenskappe nooit hoef terug te staan nie en hul drome moet uitleef.”




